NewsNews

N12 Total vulstasie vir rioolbesoedeling ondersoek

Die rioolwater wat die N12 vulstasie al sedert 2018 in hul omgewing stort, word uiteindelik aangespreek.

Die rioolwater wat die N12 vulstasie al sedert 2018 in hul omgewing stort, word uiteindelik aangespreek. Volgens ‘n media skakelbeampte van Total SA, Nadia Vosloo, het hul hoofkantoor verlede week ‘n kontrakteur en ‘n bestuurspan na Potchefstroom gestuur om die probleem te ondersoek. “Wanneer die probleem vasgestel is, sal ons die situasie evalueer en met die belanghebbende partye die uitweg bespreek”, sê sy.

Inwoners van die omgewing naby Die Wilgers Hoërskool kla al vir meer as ‘n jaar oor die vuil rioolwater wat hulle omgewing besoedel. Die konstante watervloei veroorsaak ook gate in die paaie. ‘n Tydelike oplossing van rdl. Vincent Clarke was om ‘n sloot in die oop stuk grond oorkant die vulstasie te laat grawe om die water na Holtzhausenstraat te kanaliseer. Dit het egter nie die probleem opgelos nie. Inwoners van die nabygeleë kleinhoewes kla dat die rioolwater die grondwater besoedel. Hulle is bekommerd hieroor, want hulle gebruik boorgate om hul drinkwater te pomp.

Die Herald het in Julie 2019 oor die besoedeling berig en probeer om met die eienaars te gesels, maar hulle het die probleem ontken. George Palazli, ‘n mede-eienaar het Anné van Onselen, DA-raadslid van Wyk 3, meegedeel dat die water silwerskoon is en dat dit goed is vir die pad om skoongewas te word. Een van die ander eienaars, Mike Aptoulah, het die besoedeling ontken en toe ‘n joernalis met hom daaroor wou praat, is sy die deur gewys.

Afriforum het destyds watertoetse laat doen wat bevestig het dat die water met riool besoedel is. Die Herald het onlangs ‘n sertifikaat van Enviro Care Laboratory onder oë gehad wat bevestig dat die watermonster, wat op 10 Januarie vanjaar by die vulstasie geneem is, met riool besoedel is en nie vir menslike gebruik bedoel is nie.

Marius van der Walt, JB Marks se superintendent van water en riool, het destyds al gesê die vulstasie se riool is nie aan die munisipale rioolstelsel gekoppel nie. Hulle het hul eie rioolsuiweringsisteem en is vir hulle eie rioolverwydering verantwoordelik deur byvoorbeeld van ‘n septiese tenk en vakuumvragmotor (honey sucker) gebruik te maak. Marius het vermoed dat die septiese tenk nie gereeld genoeg leeggemaak word nie en dat die besmette water dan in die pad afstroom.

Anné bevestig verder dat beide die munisipale bestuurder en die uitvoerende burgemeester van die besoedeling kennis dra omdat sy dit al meer as een keer in raadsvergaderings onder hul aandag gebring het. Sy is egter verbaas dat hulle tot dusver  nog nie teen die eienaars van die N12-vulstasie opgetree het nie.

Gelukkig beskou Total SA die aantuigings van besoedeling in ‘n baie ernstige lig. “Total is daartoe verbind om te verseker dat hoë gesondheids-, veiligheids- en omgewingstandaarde gehandhaaf word en onderneem om so gou as moontlik die probleem op te los”, sê Nadia.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button