Die vierjarige seuntjie wat Dinsdagmiddag (21 Januarie) ernstig in ‘n motorbotsing beseer is, is die volgende dag uit Mediclinic Potchefstroom hospitaal ontslaan en sterk verder by sy ouerhuis aan. So sê Diana King, woordvoerder van Mediclinic Potchefstroom.
Die seuntjie was ‘n passasier in die wit Mercedes wat om 14:30 in ‘n botsing teen ‘n Toyota Hilux bakkie betrokke was. Die ongeluk het in MC Roodestraat plaasgevind.
ER24 paramedici het omtreeks 15:00 by die ongelukstoneel aangekom waar hulle die twee voertuie langs die pad aangetref het. ‘n Man, ouer vrou en ‘n vierjarige seuntjie het buite naby hulle voertuie gelê.
Volgens die woordvoerder van ER24, Russel Meiring, het die man matige beserings opgedoen. Die vrou is lig beseer, terwyl die seuntjie ernstig beseer was.
Al drie pasiënte is op die toneel behandel. Die seuntjie het pynmedikasie ontvang voordat hulle na Mediclinic Potchefstroom geneem is.
Die polisie het die toneel verder ondersoek.



