‘n Inbreker het nuwe inwoners van Potchefstroom Maandagoggend (27 Januarie) onverhoeds betrap toe hy hulle aluminium kombuisvenster heel uit sy raam verwyder het.
Hein en Anchenique Papenfus bly nog net ‘n maand in hul nuwe meenthuis in die Mooivallei area. Hul kompleks het sekuriteitshekke en ‘n ringmuur met elektriese heining bo-op die muur. Hulle het gedink hulle is baie veiliger hier as in Rustenburg, want hulle het daar ook in hul eerste maand ‘n bloutjie geloop toe daar by hul ingebreek was.
Hein sê hy het nie gedink dit kan so maklik wees om ‘n glasventer uit sy aluminium raam te verwyder nie. Die verdagte het klein gaatjies in die aliminiumraam gemaak wat lyk soos ‘n spyker wat in die raam ingekap was. Hierdie gaatjies was reg rondom gemaak en was ongeveer 15 cm uitmekaar gespasieër. Daarna het die verdagte die dun rame verwyder en die glas mooi netjies uitgehaal en op die grasperk neergesit sonder dat dit gekraak of gebreek het.
“Hierdie ou is beslis ‘n gesoute inbreker”, sê Hein. Hy kan nie glo dat hy en sy vrou nie wakker geword het van die gaatjies wat in die raam gemaak is nie.
Hein se dertienjarige suster wat nie haar naam bekend wil maak nie, het Maandagoggend 03:20 op die inbreker afgekom.
Sy het gelukkig nie in hom vasgeloop nie. Sy was nog in die gang en het gesien hoe hy handeviervoet in die sitkamer rondkruip en met ‘n flitslig oral lig.
Sy het doodstil gebly en dadelik na die hoofslaapkamer gehardloop waar sy haar broer wakker gemaak het. Hy het toe begin skree om die dief te verjaag en homself, sy vrou en suster in die hoofslaapkamer toegesluit waarna hy die alarm se paniekknoppie gedruk het.
Lees meer oor die inbraak in hierdie week se Herald (30 Januarie)



