CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Vyfjarige se vermeende moordenaar getuig

“Iemand het van buite af ingebreek, deur ‘n staaldeur oop te buig, en het die lyk in die bed versteek.”

“Iemand het van buite af ingebreek, deur ‘n staaldeur oop te buig, en het die lyk in die bed versteek”, is Daniel Minta se verklaring van Lovemore Ncube (5) se lyk wat in die basis van ‘n bed by Winkel 7 van die Indiërsentrum in Potchefstroom gevind is.

Lovemore is op 3 Oktober 2018 ontvoer, verkrag en het versmoor nadat stopsels van ‘n kussing in sy keel afgedruk is. Sy lyk is deur Daniel se voormalige vriend, Themba Skosana, ontdek toe hy vir sy foon onder die matras gesoek het.

Daniel beweer nou hy het nooit in Winkel 7 by die Indiërsentrum gebly nie, maar slegs vir John Hlawe daar gewerk. Dit nadat Themba Skosana, Constance Ncube en John Hlawe, vroeër die week getuig het Daniel het wel daar gebly.

John het vroeër ook getuig Daniel het nooit vir hom gewerk nie. Hy het Daniel in goedertrou daar laat bly in ruil daarvoor om die kamer op te pas indien mense sou wou inbreek.

Die vermeende moordenaar het ook verder getuig dat die bed in Winkel 7 nie aan hom behoort het nie, maar dat dit John se bed is wat hy daar vir die werkers geplaas het indien hulle wil rus. Hy het erken dat die kortbroek, gordel en bord, wat die polisie saam met die ander voorwerpe in die kamer gefotografeer het, wel aan hom behoort, maar hy ontken dat die toiletware en ander besittings in die kamer syne is. Hy het gesê dit was die besittings van ander werkers wat voorheen vir John gewerk het en dat hulle dit nooit weer kom haal het nie.

Daniel beweer ook dat hy net so geskok was toe Themba die lyk ontdek het. Nadat Themba uit die kamer gevlug het, het hy Daniel in die kamer toegesluit. Daniel het toe deur die oop staaldeur gevlug. “Ek weet nie wat Themba wou doen nadat hy gevlug het nie. Ek was bang hy vertel vir die gemeenskap en hulle wil my dalk doodmaak”, het Daniel getuig.

Regter, André Petersen, wou by Daniel weet waarom hy nie gedink het die kind het dalk hulp nodig nie, waarna hy geantwoord het dat die gedagte nooit by hom opgekom het nie.

Die regter het ook aan Daniel gevra waarom hy nie dadelik polisie toe gegaan het of probeer het om John te skakel, of ‘n “please call me” aan hom gestuur het nie. Hy wou ook by Daniel weet waarom hy nie vir die ander mense, tussen wie hy beweer hy gebly het, oor die voorval vertel het nie. Daniel het telkens gesê dat hy nie daaraan gedink het nie.

Verder wou die regter ook by hom weet hoekom hy so laat in die aand nog by die werk is toe Ncube se ma hom gevra het waar haar kind is en met ‘n vorige geleentheid toe hy inbrekers laat die aand verjaag het.

Die hosaak is uitgestel na 31 Maart – 3 April in Potchefstroom of Klerksdorp.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button