Create 21 – Potch kunstenaars wys hulle werke
Die Herald moedig kunstenaars en kreatiewes in hierdie inperkingsperiode aan om foto's te stuur van hulle kunswerke wat hul vir die beplande Create 21 uitstalling gaan inskryf.
Die Herald moedig die kreatiewes onder ons aan om foto’s te stuur van hulle kunswerke wat hul vir die beplande Create 21 uitstalling gaan inskryf (Sien informasie van Create 21 uitstalling aan die einde van die berig). Lees ook ‘n vorige webartikel rondom die uitstalling.
Dedré Victor en Cronjé Lemmer het vir die Herald voorbeelde van hulle werke gestuur. Die Herald hoop dit gaan van julle motiveer om ook kreatief te wees.
Hoewel Dedré se tuin haar hoofinspirasie is, eksperimenteer sy ook met abstrakte vorms.
Slotte en sleutels is weer Cronjé Lemmer se inspirasie vir die grendeltyd waarin ons onsself bevind.
Ons wil ook graag met jou kunswerke spog. E-pos een tot drie foto’s van jou verskillende kunswerke aan potchkuns@gmail.com. Skryf in die onderwerp van die e-pos Create 21 en in die boodskap die naam van die kunstenaar, die titel van elke kunswerk asook die medium wat jy gebruik het.
Wat is Create 21?
Drie kunstenaars van Potchefstroom – Dedré Victor, Roy Vierra Forté en Cronjé Lemmer – moedig kunstenaars aan om, in die 21 dae van inperking elke dag kreatief te wees en werke te skep. Dié kunswerke word later tydens ‘n kunsuitstalling ten toon gestal en verkoop. Fondse wat ingesamel word, word vir die Teaterbydstandsfonds geskenk.
Kunstenaars kan enige medium gebruik. Die kunswerke se grootte moet 15cm x 20cm (A5 grootte) wees en moet verkieslik ongeraam wees.
Enige iemand wat belangstel om aan die projek deel te neem, kan ‘n epos na Create.21days@gmail.com stuur of die facebookblad Create Hope besoek. Meer besonderhede rondom die kunsuitstallings sal later gekommunikeer word. Vir telefoniese navrae, skakel Dedré Victor by 082 922 8078.









