NewsNews

Oorlewingswenke vir kleinsakeondernemings

Prof. Tommy du Plessis, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool en Adviesburo vir kleinsakeondernemings, gee goeie raad aan eienaars en bestuurders van kleinsakeondernemings.

Die Herald het prof. Tommy du Plessis, verbonde aan die Noordwes-Universiteit se Besigheidskool, genader om goeie raad te gee aan eienaars en bestuurders van kleinsakeondernemings. Hy is tans betrokke by die Adviesburo vir Kleinsakeondernemings aan die NWU en ‘n kenner in kleinbesigheidsbestuur en entrepreneurskap.

Volgens hom tref die ekonomiese impak van die Covid-pandemie kleinsakeondernemings die ergste: “In normale omstandighede sukkel baie sakeondernemings om te oorleef, maar die huidige omstandighede is ongekend. Dit is juis die klein-, mikro- en medium ondernemings (KMMO) wat hierdie toestande net so erg, indien nie erger nie, ervaar.”

Hy bly optimisties en sê dat daar tog heelwat entrepreneurs is wat in elke situasie ‘n geleentheid sien.

“Dit is juis die kleiner onderneming wat makliker kan aanpas en sonder rompslomp die regte voorraad kan bekom en dit vinnig van die hand sit,” sê Du Plessis.

Ons moet onsself egter nie bluf nie. Die huidige ekonomiese toestande gaan die kleinsakesektor tot die uiterste beproef. As die eienaar of bestuur van hierdie ondernemings nie die basiese dinge reg doen nie, kan hulle ook deel van die statistiek word.

Waarna moet daar opgelet word in moeilike tye wanneer blote oorlewing jou doelwit is?

Daar is verskeie aspekte wat aandag sal moet geniet wanneer die grendeltydperk verby is. Die aspekte wat goed bestuur moet word is onder meer personeel, bemarking en kostes.

Personeel jou grootste bate

Wanneer dinge dreig om handuit te ruk en die afskaal van personeel onafwendbaar lyk, is dit belangrik dat Bestuur die staatmakers in die onderneming ten alle tye behou. Die gesegde dat personeel altyd ‘n onderneming se beste bate is, kan nooit genoeg beklemtoon word nie.

Moenie nou van sleutelpersoneel ontslae raak net om weer oor ‘n paar maande nuwes te gaan soek nie. Oorweeg ook die voordele van sub-kontraktering. Daardeur behou jy die kundigheid van jou sleutelmense, maar kan jy ook heelwat kostes soos pensioenbydrae, verlofvoordele en medies bespaar.

Dreigende afleggings het altyd ‘n negatiewe invloed op moraal. Bestuur moet dus veral die goeie personeel ingelig hou en, indien moontlik, hulle gerus stel oor hul toekoms in die onderneming. Heel dikwels sal personeel selfs tydelik vir verlaagde salarisse en lone werk net om hul werk te behou.

Dit kan Bestuur beslis loon om in tye soos nou op die ervaring en insig van veral die senior personeel te steun. Moenie huiwer om hul insette te kry as jy uitgawes wil beperk of nuwe markte wil ontgin nie.

Klante ondersteun ook dikwels ‘n onderneming juis vir die goeie diens wat hulle van die personeel ontvang. Vind dus by die personeel self uit hoe hulle die klante tevrede stel en bou daarop voort.

Kostebesparingswenke

Voordat jy nou heeltemal mismoedig op moedverloor se vlakte gaan sit en begin wonder hoe om van jou onderneming ontslae te raak, of begin uitvind watter pad jy moet loop om die onderneming se deure te sluit, dink eers mooi of jy nie dalk die gordel nog ‘n bietjie stywer kan vastrek nie.

Miskien, maar net miskien, kan een van die volgende kostebesparingswenke jou onderneming red:

•Die belangrikste wenk is sekerlik dat elke onderneming ‘n bedryfskoste-begroting moet hê wat op ‘n gereelde basis ontleed, vergelyk en aangepas moet word. Kyk na elke koste-item en dink aan maniere hoe dit op ‘n minimum gehou kan word sonder om die onderneming se werkverrigting te benadeel.

•Verhuur onbenutte winkel/kantoor/fabriekspasie aan ‘n ander sakeonderneming. Daar mag dalk ook toerusting soos kopieerders, faks-fasiliteite, drukkers, rekenaars of selfs telefone en lessenaars wees wat aan ‘n ander sakeondernemer verhuur kan word. Dink kreatief en probeer om spasie en toerusting optimaal te benut.

•Hou die skryfbehoefteskabinet gesluit. Dit is een van die klein jakkalsies wat winste opvreet. Vra personeel om sensitief te wees vir vermorsing op skryfbehoeftes en om die penne en skryfblokke wat leweransiers so mildelik uitdeel, te gebruik.

•Druk op beide kante van die papier vir interne gebruik. Probeer om sover moontlik in ‘n papierlose omgewing, veral intern, te opereer. Dit is net ‘n kwessie van gewoonte.

•Bestuur telefoonkoste met ‘n ysterhand. Dit is nie ‘n personeelvoordeel om privaatoproepe van die werk af te maak nie. Betaal liewer die ekstra fooi om detailstate van Telkom of die selfoonverskaffer te kry en ontleed dit deeglik en gereeld.

•Hersien die onderneming se korttermynversekering gereeld. Dit is goeie praktyk om ander kwotasies ook gereeld te vergelyk met wat tans betaal word. Maak seker dat al die bates wat op die versekeringskedule is, nog op die onderneming se bateregister is en nie dalk al verkoop, ingeruil of afgeskryf is nie.

•Dink twee keer voordat bates vervang word. Oorweeg eerder om die lewensduur van toerusting en masjinerie te verleng deur dit net eenvoudig ‘n goeie diens te laat gee. ‘n Koste-voordeel analise moet elke keer die maatstaf wees.

•Vergelyk koerierdienste se kostes voordat daar net eenvoudig van die gerieflikste een gebruik gemaak word. Dikwels is dit net te veel moeite om van ‘n spesifieke koerierdiens gebruik te maak omdat die item by hulle afgelewer moet word of daar in ‘n toonbank ry gewag moet word.

•Sorg dat iemand verantwoordelikheid aanvaar vir die afskakel van ligte, rekenaars en lugversorgers wanneer die perseel verlaat word. Verander ligbuise na energie-besparende produkte. Energie besparing spaar geld.

•Beplan en beperk reis en verblyfkoste. Moenie net een kliënt gaan sien op ‘n besigheidsreis nie. Maak die reis die moeite en geld werd. Indien moontlik, probeer om by familie of vriende te oornag.

•Onderhandel beter terme met die bank. Indien jy ‘n goeie klant vir die bank is, sal hulle altyd oop wees vir onderhandeling. Daar is selfs banke wat herskedulering van paaiemente aanbied. Wees in elk geval altyd op die uitkyk vir ‘n beter transaksie, of dit met die bank of met leweransiers is.

Wees kreatief

Een van die uitstaande kenmerke van ware entrepreneurs is dat hulle uiters kreatief kan dink. As omstandighede dit vereis, bied hulle uitdagings die hoof op hoogs innoverende wyse. In Engels is daar ‘n uitdrukking wat lui: “When the going gets tough, the tough get going.”

Dit is tans verseker moeilike tye vir die kleinsakeondernemer, maar die ware entrepreneurs sal oorleef omdat hulle oor spesiale eienskappe beskik om groter te dink as die probleem.

Dit is juis in tye van ekonomiese druk, soos wat tans die geval is, dat bemarking en reklame voorkeur aandag in die onderneming moet kry. Dit is egter nie die tyd om met verouderde bemarkingsaksies aan te karring nie. Dit sal na alle waarskynlikheid dieselfde onbevredigende resultate lewer.

Dit is nou die tyd om uiters kreatief te wees. Beweeg weg van gister se geykte pogings om die onderneming se produkte en dienste te bemark, kom vorendag met vars nuwe maniere en verras die mark!

Kom ons gesels oor kreatiwiteit. Elke mens beskik oor ‘n sluimerende skeppingsdrang. In party mense kom dit dalk makliker na vore as by ander, maar dat dit by almal aanwesig is, lei geen twyfel nie.

Dit is in die sakeondernemer se beste belang om die personeel se kreatiewe denke te ontwikkel omdat dit die onderneming goed sal dien in die toekoms.

Moedig hulle aan om met nuwe idees vorendag te kom. Skep geleenthede waar hulle met voorstelle vorendag kan kom om bedryfkoste te sny, diens te verbeter en meer doeltreffend die onderneming te bemark. Bemarking het vele gesigte. In kleiner sakeondernemings neem dit die vorm aan van onder andere promosies, borgskappe, skakeling, uitstallings en daaglikse goeie diens waar tevrede kliënte vir ander daarvan oorvertel.

Dan is daar natuurlik advertensies in die gedrukte media en oor die radio, asook brosjures, pamflette, uithang- en naamborde.

Sakeondernemers kan gerus hul kliënte vra om die onderneming se advertensies te beoordeel na aanleiding van die volgende vrae:

•Slaag die advertensie daarin om voornemende klante of verbruikers se aandag te trek?

•Bied die advertensie ‘n moontlike oplossing vir ‘n bepaalde probleem of behoefte?

•Wek dit onmiddellike belangstelling om meer oor die produkte of onderneming uit te vind?

•Skep die advertensie die begeerte om te koop?

•Sal die advertensie ‘n voornemende klant tot aksie aanspoor?

Kreatiwiteit speel uiteraard ’n geweldig belangrike rol in die ontwerp van enige gedrukte advertensie. Moenie skroom om die hulp van kenners soos grafiese ontwerpers, kreatiewe skrywers of selfs advertensiemaatskappye in te roep nie.

Almal ding mee om die aandag van ‘n hoogs verveelde koperspubliek. Wees verseker dat “goed genoeg bemarking” lankal nie meer “goed genoeg” is nie. Net hoogs innoverende bemarking sal jou onderneming se wa deur die drif trek!

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button