Local newsNewsNews

Beleef nuwe en ervare talent by Aardklop

Vanjaar se twee Pronk Podium-produksies is Detensie en Vlerktog. Soos verlede jaar, word daar gepoog om die jong geselskap met ervare mense in die bedryf te laat saamwerk.

Daar word al vir honderde jare gesê die teater is sterwend, veral sedert die koms van fliekteaters en televisie. En tog beur ons voort.

Hoekom? Want daar is geen ander ervaring presies soos die teater en die verhoog nie – ’n plek waar mense in lewende lywe saam kan kom, waar geen twee ervarings ooit presies dieselfde is nie. Dis ’n menslike ritueel wat nie deur enige tegnologie vervang kan word nie.

Detensie is een van die Pronk Podium produksies wat die Patria Manskoshuis van die NWU gaan aanbied. Foto: Wouter Pienaar

As die lewe ’n wedloop is, dan is die kunste – en veral die uitvoerende kunste – ’n aflos. By Momentum Aardklop glo ons in die koestering van daardie oordrag van kennis en ervaring van een geslag kunstenaars na die volgende. Daarom bied ons  Pronk Podium, ’n nasionale toneelfeeskompetisie vir laerskool-, hoërskoolleerlinge en studente wat aan die NWU Kampustoneel deelneem.

Vanjaar se twee Pronk Podium-produksies is Detensie en Vlerktog. Soos verlede jaar, word daar gepoog om die jong geselskap met ervare mense in die bedryf te laat saamwerk. Die voormalige Kampustoneel-wenners Patria Koshuis is byvoorbeeld die vervaardigers van Detensie, en Vlerktog is ’n teks deur die bekende en bekroonde Wessel Pretorius. Só word kennis en ervaring aan ’n nuwe geslag teatermakers oorgedra.

Dié twee produksies kan met een kaartjie bygewoon word.

Kyk dit op 3 Oktober om 11:30 by Girls High. Vlerktog (34 min.) is eerste aan die beurt, en ná ’n pouse van 20 minute volg Detensie (ook 35 min.). Ondersteun gerus hierdie ontluikende talent!

Die hele spektrum van ervaring

Die aanbod van produksies by vanjaar se fees is weer eens ’n hele spektrum van kunstenaars, van die jongste tot die mees ervare. Van die groot name wat weer te sien sal wees, sluit in Sandra Prinsloo, Amanda Strydom, Frank Opperman, Elzabé Zietsman, Nataniël, Charl du Plessis, Margit Meyer-Rödenbeck, Hannes van Wyk, Coenie de Villiers en Marion Holm.

Daar is ook bekroonde akteurs en kunstenaars soos Leon Gropp, Claire Johnston van Mango Groove, Cindy Swanepoel, Kaz McFadden, Hannes Brümmer, André Odendaal, Chris Vorster, Veronique Jephtas, Nicole Holm, Brendon Daniels, Je-Ani Swiegelaar, Albert Pretorius, Schalk Joubert, en Rocco de Villiers. Selfs almal se gunsteling-fopdosser, Tollie Parton, maak ’n swierige draai.

Net by ’n kunstefees kry jy daardie regstreekse kruisbestuiwing tussen die geslagte, soos in die produksie ‘KUNS’, waarin die akteurs Ludwig Binge, Wessel Pretorius en Wilhelm van der Walt saamwerk met die veteraanregisseur Marthinus Basson. En in Tillie/Matilda speel Amanda Strydom die rol van ’n ouer prostituut teenoor die jonger Je-Ani Swiegelaar (van Binnelanders-faam).  

In Die ander dogter lewer die ikoniese Sandra Prinsloo (wat binnekort ’n eredoktorsgraad van die Noordwes-Universiteit ontvang) ’n meesterklas in vertolking. Ook aan dié kant van die ervaringspektrum is daar Liefde, Lafras, waarin Antoinette Kellermann en Gerben Kamper te sien is. Laasgenoemde het juis aangekondig dat hierdie produksie sy swanesang op die verhoog sal wees. Moet dit dus nie misloop nie.  

Van nuutgeskep – met Vlerktog van Wessel Pretorius, Pad na Soekmekaar deur Paul Slabolepszy, die drie Twit-avonture vir die kinders, Beste voetjie voor met Zandelle Meyer, en meer – tot herbesoek, met Boesman en Lena deur Athol Fugard en Belofte van vere oor Breyten Breytenbach en meer, wag daar ’n ryk getekstureerde tapisserie op feesgangers. 

Zandélle noem dat Beste Voetjie Voor na aan haar hart lê. Foto: Nardus Engelbrecht.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button