CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Virus in hof, polisiestasies en kliniek opgetel

Die toename in positiewe gevalle van COVID-19 veroorsaak dat meer instansies deur die koronavirus geaffekteer word.

Die toename in positiewe gevalle van COVID-19 veroorsaak dat meer instansies deur die koronavirus geaffekteer word. Gelukkig duur die ontsmetting van die geboue slegs 24 uur voor dienste weer hervat kan word.

So het die plaaslike landdroshof in Potchefstroom verlede Vrydag, 12 Junie gesluit nadat drie hofordonnanse positief vir COVID-19 getoets het. Die hof is Saterdag ontsmet en was Maandag weer oop vir howe wat gesit het.

‘n Gesondheidswerker gereed om die hofgebou te ontsmet. Foto: Verskaf

Brig. Sabata Mokgwabone, Noordwes woordvoerder van die polisie, het ook bevestig dat die Noordwes-polisie se provinsiale kantore by Wespol-plein Maandag, 15 Junie ook gesluit het om Dinsdag ontsmet te word.

Laat Woensdagmiddag (17 Junie) het die Herald ook van die stasiebevelvoerder van die Potchefstroom-polisiestasie, brig. Steven Moodley verneem dat die polisiekantore ook gesluit het nadat ‘n positiewe geval hul besoek het.

Dieselfde middag het die West Acres-inkopiesentrum  ook ‘n kennisgewing uitgestuur dat dit tydelik vir ontsmetting gesluit is. Dit is vandag (18 Junie) weer oop.

Die Steve Tshwete kliniek was Maandag ook gesluit nadat ‘n verpleegster positief vir COVID-19 getoets het. Die kliniek is gister (Woensdag, 17 Junie) ontsmet. Tebogo Lekgethwane, woordvoerder van die gesondheidsdepartement in die Noordwes het bevestig dat die kliniek teen die einde van die week weer oop sal wees en dat 12 personeellede tans in selfkwarantyn by hulle huise is.

Volgens Lekgethwane is daar ‘n konstante patroon wat dui dat daar daagliks ‘n toename van ongeveer 100 nuwe gevalle in die Noordwes Provinsie is.

Bojanala en Dr Kenneth Kaunda distrikte het steeds die hoogste getalle wat aangeteken word, met Bojanala wat Dinsdag 819 gevalle aangeteken het en Dr Kenneth Kaunda- distrik wat op 383 gestaan het. Lekgethwane skryf die distrikte se syfers hoofsaaklik toe aan die groot getalle positiewe gevalle wat by myne aangeteken word. JB Marks se positiewe getal was Dinsdag 73, met 15 pasiënte wat reeds herstel het.

Daar is drie sterfgevalle in Dr Kenneth Kauda-distrik aangeteken terwyl daar net sover een sterfgeval in die Bojanala-distrik is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button