Covid-19 eis nog twee pasiënte by Witrand
Die kommunikasiewoordvoerder van Witrand hospitaal, Koketso Diloane, het hierdie week bevestig dat nog twee pasiënte sedert 22 Junie aan Covid-19 by Witrand gesterf het.
Die kommunikasiewoordvoerder van Witrand hospitaal, Koketso Diloane, het hierdie week bevestig dat nog twee pasiënte sedert 22 Junie aan Covid-19 by Witrand gesterf het.
Drie pasiënte en een werker is sover aan Covid-19 dood nadat die virus in Junie by die hospitaal uitgebreek het.
Die LUR van Noordwes gesondheid, Madoda Sambatha, het op 19 Junie tydens ʼn mediakonferensie bevestig dat 23 personeellede en 100 pasiënte positief vir die virus getoets het. Al 100 pasiënte was asimptomaties en het nie simptome van die virus getoon nie.
Die eerste Covid-19-geval by die hospitaal was ʼn verpleegster wat getoets is nadat sy verkouesimptome getoon het. Sy het haar toetsuitslae op 10 Junie ontvang. Noordwes gesondheid het daarna opdrag gegee dat al die pasiënte van saal-3 en -4 getoets moet word. Van die 202 pasiënte het 81 van saal-3 en 19 van saal-4 positief getoets.
Diloane het ook bevestig dat drie personeellede en twee pasiënte sedert 22 Junie Covid-19 opgedoen het. Hy het ook verder genoem dat die pasiënte op ʼn daaglikse basis gemonitor word om vas te stel of hulle simptome toon.
ʼn Isolasiesaal met 55 beddens is met suurstofbehandeling ingerig vir pasiënte wat later meer sorg nodig kry. Diloane sê dat ʼn etiese komitee ook kan besluit of pasiënte wat gespesialiseerde sorg nodig kry ook na ander hospitale oorgeplaas kan word. Tot dusver was dit nie nodig vir pasiënte om oorgeplaas te word nie.
* LET WEL – Covid-19 is die naam van die siektetoestand wat die koronavirus veroorsaak. ‘n Pasiënt kan positief vir die virus toets, maar nie Covid-19 onder lede hê nie. In so ‘n geval is ‘n pasiënt asimptomaties en toon hy/sy geen simptome van die virus nie.




