
Ongeveer drie dekades gelede was daar geen Senwespark of T-20 krieket in Potchefstroom nie. Wat daar wel vir menigde krieketliefhebber op die spyskaart was, was die immergewilde Benson & Hedges Krieket eendagreeks tussen provinsiale spanne in Suid-Afrika.
Skare het elke oomblik van die senutergende korter aandwedstryde tussen provinsies geniet met groot name soos Daryll Cullinan, Derek Crookes, Jonty Rhodes, Andrew Hudson, Peter Kirsten, en ander wat gereeld vir hulle provinsiale spanne gespeel het.
Daar was altyd groot belangstelling in Potchefstroom wanneer die destydse Wes-Transvaal teen ander unies hulle kragte sou meet. Al was Wes-Transvaal nie altyd die sterkste nie, kon hulle keer op keer hulle koppe hooghou.
Nog ‘n groot faktor wat ‘n unieke aspek in hierdie tydperk in SA krieket was, was die buitelandse spelers wat ‘n groot invloed op plaaslike spelers gehad het. By Natal het die Windies legende, Malcolm Marshall, vir onder andere vir Shaun Pollock onder sy vlerk geneem, terwyl Desmond Haynes, ook ‘n Windies staatmaker, by Westelike Provinsie ‘n massiewe rol gespeel het.
In Noordwes was die Wes-Indiese Eilande se veelsydige speler, Henderson Springer, so ‘n geval. Springer was een van die groot geeste by NW-krieket in die negentiger-jare. Springer het ‘n paar jaar later in 2016 ook ‘n draai in Potchefstroom saam die Wes-Indiese Eilande gemaak toe hulle ‘n oefenkamp hier meegemaak het.

HP Prinsloo, die huidige Hoof Uitvoerende Beampte van Noordwes Krieket, het in die 1992/93 seisoen Wes-Transvaal as kaptein in die B & H-reeks gelei met Henderson “Hendy” Springer wat toe saam met hom in die span gespeel het.

In ‘n berig wat in die 11 Oktober 1992 uitgawe van die Potchefstroom Herald verskyn het, word daar berig dat Wes-Trasvaal teen ‘n sterk Oostelike Provinsie (OP) span die knie in Potchefstroom op die Fanie du Toit Sportgronde met 76 lopies moes buig.
In hierdie wedstryd was Hendrik de Vos met 48 en Springer met 51* die voorste lopiemakers vir die Weste.
Vir die OP het Greg Miller met 67 die fondasie van die oorwinning gelê. Nog ‘n Windies man, Eldine Baptiste het ook vir die besoekers uitgedraf en puik geboul. Die bekende kolwer, Louis Koen het ook vir OP gespeel, sowel as Garth Roe en Martin Venter, wie toe later jare ook vir NW op die kruin van hulle loopbane gespeel het.
Sien die berig hier: