NewsNews

‘Geen bedrog’ sê sakeman

“Daar is ‘n likwidasieproses wat nog afgehandel moet word. “Nog niemand het werklik hulle geld verloor nie en daar is beslis nie bedrog gepleeg nie.”

“Daar is ‘n likwidasieproses wat nog afgehandel moet word.
“Nog niemand het werklik hulle geld verloor nie en daar is beslis nie bedrog gepleeg nie.”
So sê Ben Otto, eienaar van RSA Search, nadat ‘n groep mense ‘n klag by die Valke ingedien het. Netwerk24 berig dat kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die Valke, bevestig het dat die saak ondersoek word, maar omdat dit nog in die beginfase is, daar nie meer daaroor gesê kan word nie.
Volgens Otto is die maatskappy genoodsaak om te likwideer weens die staat van inperking wat katastrofiese gevolge vir sy onderneming gehad het.
“Ons hoofbesigheid is akkommodasie. Dit is nou al op amper vier maande wat daar nie akkommodasie bespreek kan word nie.
“Dit beteken mense gaan nie by ons adverteer vir akkommodasie nie.
“So die maatskappy het nie ‘n inkomste nie,” verduidelik hy.
Volgens Magriet Otto (geen verbintenis) wat as informele sameroeper van die groep van oor die honderd mense optree, is daar miljoene rand deur verskeie mense van die groep in RSA Search belê.
Kontrakte is met beleggers aangegaan dat hulle sou deel in die maatskappy se winste teen ’n koers van 2% of 3% per maand.
In meeste van die gevalle het die beleggers hulle maandelikse winsdeling van die maatskappy ontvang.
Volgens Sinta Botha van Potchefstroom het sy R500 000 in Januarie 2019 in die maatskappy belê, waarna sy elke maand haar 3% winsdeling ontvang het.
Volgens haar is die geld in Januarie vanjaar laat inbetaal en teen April het sy nie meer die rente ontvang nie.
Teen dié tyd het Ben vir beleggers laat weet dat die maatskappy weens die staat van inperking sukkel en later dat die maatskappy gelikwideer sal word.
James Potgieter van die Kingdom Kings Outreaches South Africa het ook R300 000 belê en het ook ‘n opbrengs tot en met April ontvang.
“Ons het alles verloor en maak nou op welsyn staat,” het Potgieter gesê.
“Ons kan darem nog eet en leef, maar ek sal nou langer moet werk. Ek dink almal soek net hulle oorspronklike belegging terug,” het Botha gesê.
Volgens Magriet is die meeste van die mense wat geld in die onderneming belê het, pensioenarisse wat nou sukkel om kop bo water te hou.
“Ek hardloop nie weg nie, ek bly al baie jare in Potchefstroom in dieselfde huis.
“Die Valke se ondersoek sal dit wys.
“Al die finansiële state is deur eksterne ouditeurs geoudit.
“Ek het nooit gewoeker met die geld van beleggers af nie.
“Die ooreenkoms was dat beleggers in die winste van die onderneming sou deel.
“Daar is weens die pandemie nou nie meer ‘n inkomste nie. Kapitaal is gebruik om die besigheid te adverteer en te laat groei.
“Ek het myself nie deur die beleggings verryk nie.
Daar is baie maatskappye wat nou weens die pandemie nie kan voortbestaan nie.
“Kontantvloei het ons gevang soos vir baie ander mense,” verduidelik Otto.

 

André Heymans, verbonde aan die NWU se besigheidskool, waarsku dat enige tipe belegging wat ‘n sekere opbrengs waarborg, mooi na gekyk moet word.
“Mense moet hulle navorsing baie goed doen voor hulle geld belê. Vra jouself altyd die vraag, hoeveel dividende betaal groot nasionale maatskappye aan beleggers? As die belegging ‘n heelwat groter opbrengs belowe, moet jy vra hoekom?
Hoekom sal iemand vir jou 3% per maand belowe wat uitwerk op 36% per jaar, terwyl so ‘n persoon baie beter terugbetalingskoerse op ’n lening by ‘n bank sou kry,” verduidelik Heymans.
Volgens Heymans doen mense dikwels nie genoeg navorsing voordat hulle geld belê nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button