Die lisensiekantore in Potchefstroom is vir ‘n derde keer toe weens positiewe Covid-19 gevalle wat by dié afdeling aangemeld is.
Die vorige kere wat die kantore gesluit was en weer oopgemaak het, het dit met beperkte ure en mannekrag gepaard gegaan. Daar was en is steeds ‘n groot agterstand in lisensies wat hernu moet word.
Die minister van vervoer, Fikile Mbalula het aangekondig dat bestuurs- en leerlinglisensies wat tydens die inperkingsperiode verval het, grasie tot 31 Januarie 2021 sal hê om hernu te word.
Terwyl voertuiglisensies wat in die tydeperk van 27 Maart to 31 Mei verval het, grasie het tot 31 Augusutus om dit te hernu.
Voertuiglisensies wat in Junie en Julie verval is uit die grasieperiode uitgesluit. Met die lisensiekantore in Potchefstroom wat al sedert Junie kort-kort toe is, het dit amper onmoontlik gemaak vir mense om voertuiglisensies te hernu.
Volgens Jeanette Tshite, munisipale woordvoerder, sal die bepalings wat die minister aangekondig het ook die maande van Junie en Julie 2020 dek.
“Volgens die bedryfsstandaarde van die departement van gemeenskapsveiligheid, word dit ook gedek aangesien dit nog onder die inperkingstydperk val,” het Tshite by navraag gesê.
Die lisensiekantore sal weer Maandag (3 Augustus) oop wees.



