Sakekamer span kragte saam vir vooruitgang
Die hartklop van Potchefstroom is die afgelope paar maande sagter weens die impak van Covid-19 op besighede en die plaaslike gemeenskap.

Die hartklop van Potchefstroom is die afgelope paar maande sagter weens die impak van Covid-19 op besighede en die plaaslike gemeenskap.
Die Potchefstroom Sakekamer het kragte saam met sakesektore en gemeenskapslede gesnoer met die hoop om vooruitgang in die stad se ekonomie te bring. Die #ProPotch veldtog is ’n plaaslike nie-winsgewende inisiatief wat besigheidseienaars en inwoners aanmoedig om plaaslik te dink wanneer hulle geld spandeer. Ondernemings wat plaaslike eienaars het, plaaslike indiensneming bevorder of grootliks plaaslik koop, word uitgesonder sodat lede van die publiek hierdie ondernemings duidelik kan uitken en ondersteun.
“Ondersteuning en bevordering van plaaslike produkte, dienste en besighede kan tot grootskaalse werkskepping en ekonomiese vooruitgang in ons gemeenskap lei,” sê die sakekamer voorsitter, Jonathan Baron. “Ons moet elke moontlike geleentheid aangryp om ons akkerstad weer op te bou en ons kan dit slegs bereik deur die hulp en kameraadskap van ons gemeenskap en sake-lede,” sê Juanita Greyling, ondervoorsitster van die Potchefstroom Sakekamer.
Die Pro Potch beweging moedig Potchefstromers aan om ’n bondgenootskap te vorm en hande te vat om plaaslike ekonomiese sektore te ontwikkel. Die Covid-19 pandemie het tydens die inperkingstydperk onder meer eenmansake, kleiner ondernemings en inwoners negatief beïnvloed. Daar is waarskynlik geen besigheid in die stad wat nie deur die inperkingsmaatreëls benadeel is nie. Sekere van hierdie ondernemings is so erg geaffekteer dat hulle waarskynlik vir maande nie weer hulle deure gaan kan oopmaak nie.
Die eerste Pro-Potch projek is al vroeg tydens die inperking geloods. Die Potchefstroom Sakekamer tesame met die JB Marks Munisipaliteit, NWU, CFAM Technologies en ander rolspelers het kitspap aan minderbevoorregtes in die gemeenskap voorsien. “Ons besighede, organisasies, werknemers en gesinne trek swaar. Die ekonomie in ons stad het reeds voor die Covid-19 krisis weinig groei getoon. Ons grootste uitdaging is nou om plaaslik te ondersteun en die geld in die stad te hou,” vertel Dewald van Breda, bestuurslid van die Sakekamer en Pro Potch aksiespan. Besigheidseienaars stem oor een ding saam: Die oorlewing en heropbou van die stad se ekonomie is in die hande van elke inwoner wat hom verbind om plaaslik te spandeer.
In plaas daarvan om aanlyn of van buite die stad te koop, pleit die sakekamer dat inwoners plaaslike ondernemings sal ondersteun. “Voordat jy kwotasies van buite Potchefstroom aanvra, probeer eers om met die plaaslike onderneming of diensteverskaffer te onderhandel,” lees ’n verkalring van die sakekamer.
“Ons is nou werklik op ’n pad van heropbou, en daarvoor het ons elke rolspeler, elke diensverskaffer en elke verbruiker se samewerking nodig om ’n gemeenskaplike doel na te streef.”
Die uiteindelike doel van #ProPotch is om plaaslike sakeondermenings se kontantvloei aan die gang te hou. Alle Potchefstromers word uitgenooi om saam te staan sodat honderde besighede en duisende inwoners se inkomstes beskerm kan word.
Jy kan gratis deel word van die #ProPotch beweging deur www.potchsakekamer.co.za te besoek en die aanlyn inskrywingsvorm in te vul.




