CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Sopkombuise – hulle voed hul siel deur armes te voed

Drie sopkombuise wat die Herald besoek het, bedien met vreugde die honger mense in die gemeenskap. Vind uit hoe jy betrokke kan raak.

Dit is die Kaapse skrywer Nathan Trantraal en sy broer André se herinneringe as kinders wat jou diep ontstel as hulle praat oor hulle stryd teen honger.

Erika Terblanche skryf in ‘n artikel (20 Julie) op Litnet hoe dit hulle beïnvloed het toe hulle in Mitchell’s Plain en later Bishop Lavis gewoon het. Sy haal André aan: “As ek nadink oor my kinderjare, dink ek aan honger. My pa was ’n alkoholis. Toe hy dronk was, en hy was amper altyd, het hy ons geslaan. Maar die honger was erger. Altyd die vrees om nie kos te hê nie. ’n Grys sluier sou dan oor ons huis hang. Ons het ’n bietjie rondgehang, dikwels te moeg om te speel, en angstig gewag vir ’n maaltyd wat ons nooit geweet het of dit daar sou wees nie.”

Dit is juis dié hongersnood wat mense in die gemeenskap aangryp. Mense soos wyle Angela Freeks, Matilda Meyer en Hafsa Moosajee wat uit hulle eie sopkombuise begin het omdat hulle die nood raaksien en nie onaangeraak kan bly nie.

Wyle Angela Freeks het in 2011 met ‘n sopkombuis by haar huis in Promosa begin. Die gemeenskap het haar as Mama Angela geken. “Sy het haar ongeskiktheidspensioen gebruik om kos aan te koop en het begin om vir honger kinders in die gemeenskap van Maandag tot Vrydag ontbyt en middagete te gee. Vir die meeste van dié kinders was dit die enigste bord kos wat hulle op ‘n dag gehad het,” vertel Shaun Freeks, Angela se seun wat besluit het om sy ma se nalatenskap met die sopkombuis voort te sit nadat sy drie maande gelede oorlede is.

Angela se man, Harry is ook steeds by die sopkombuis betrokke. Hy onthou nog hoe die diep gelowige Angela ‘n brandende begeerte gehad het om die kinders in haar gemeenskap te help.

Angela het destyds ‘n niewinsgewende organisasie, Thuso ya Batho (Ons help die mense), geskep om skenkings vir haar sopkombuis te kry. Vandag voorsien Thuso ya Batho van Maandag tot Vrydag kos aan ongeveer 500 mense wat volwassenes en bejaardes insluit. Die organisasie kry voedselskenkings van besighede, en is ook van individue afhanklik wat na die gemeenskap uitreik.

Shaun vertel dat daar opmerklik meer mense is wat sedert die inperkingstyd na die sopkombuis toe kom. “Daar is selfs mense wat bereid is om elke dag ‘n uur te stap net vir ‘n maaltyd by Thuso ya Batho. Mense uit alle oorde kom na Abramstraat 41 in Promosa om hulle honger te stil – Sonderwater, Extension 7, Greenfield, Sekele, Baipei, Extension 11, Aksiepark en Marikana.

By dié sopkombuis is Elsie Mulligan een van die voorslag vrouens wat help met die voorbereiding van die kos. Saam met haar is daar 9 vrywilligers wat help om die kos voor te berei – Georgina Jantjies, Ferosa Enock, Lydia Matras, Johnny Mansie, Willem Malapisani, Sophia Snyers, Gernedine Swartz en Joline Freeks.

Die kos word voorberei agter in die erf naby die kombuis in groot swart potte op ‘n oop vuur om elektrisiteit te bespaar. “Met die reënseisoen raak dinge moeilik, want dan kan ons nie buite kook nie. ‘n Afdak sal dinge baie vergemaklik,” beaam Henry wanneer hy my na die oop vure vergesel.

Vrywilligers by Thuso ya Batho by die swart potte waarin die kos voorberei word. Tweede van links is Harray Freeks, wyle Angela Freeks se man, en tweede van regs is Shaun Freeks en heel regs is Joline Freeks, Shaun se vrou.

Die Samaritane wat by die sopkombuis betrokke is, leef elke dag in diepe dankbaarheid vir al die kosskenkings wat hulle ontvang.

In Baipei is Matilda Meyer die engel wat hoofsaaklik aan kinders en bejaardes kos gee. Haar ma Agnes Christians, het in 2009 ook vanuit haar eie huis ‘n sopkombuis begin en vandag sit Matilda die tradisie voort. Skoolkinders van Promosa en Ikageng weet dat daar elke middag vir hulle ‘n warm bord kos by die hoekhuis 268 in Baipei is.

Sara Reyners, Selma Malebatso en Sara Swarts is die ywerige kokke wat haar help om die kos in haar kombuis voor te berei. Hier staan die kinders in rye en wanneer hulle hul bord kos ontvang gaan sit hulle op ‘n lang houtpaal in die voortuin waar hulle tjoepstil hulle kos eet. Vir die ouer mense is daar stoele langs die huis uitgesit waar hulle in die sonnetjie eet.

By dié sopkombuis is daar ook ‘n behoefte aan ‘n afdak waar die kinders kan eet. Baipei is ‘n uitbreiding waar daar net grondpaaie is en in die somer wanneer dit reën, is dit ‘n modderbad.

Heelwat mense is ook van die sopkombuis bewus wat elke Donderdagoggend by die Indiërsentrum plaasvind. Hafsa Moosajee het hierdie voedingshawe in 2006 begin nadat sy gesien het daar is baie mense van Ikageng wat lang afstande dorp toe aflê om vir kos te bedel. Sy het begin om by die winkelbestuurders van die Indiërsentrum vir donasies te vra in plaas daarvan om vir elke persoon wat kos vra, donasies te gee.

Die sopkombuis by die Indiërsentrum. Hafsa Moosajee (regs) skep porsies kos in bakke wat haar helpers aan die mense uitdeel.

“Aanvanklik was daar net twee mense wat my ondersteun het, maar later het al hoe meer begin om by te dra. Ons het later met donasies uit die Indiërgemeenskap en borge die afdak en lang bankies langs die Indiërsentrum opgerig waar mense gerieflik kan sit en eet”, sê sy.

Hafsa berei self die gekookte maaltye by haar  huis voor vroeg elke Donderdagoggend. “Die mense van die gemeenskap weet al wanneer die Azaan (Moslem uitroep tot gebed) om 6:00 vanaf die Moskees uit Ikageng en Mohadin gedoen word dat hulle moet aanstap na die sentrum waar hulle kos sal kry,” vertel Hafsa. Sy is ‘n passievolle Moslemvrou wat glo dat jou siel gevoed word wanneer jy armes voed. Die sopkombuis is vir haar ‘n vreugde. Daar is ook mense uit die gemeenskap wat self na vore getree het om haar te help opdien en opwas wanneer sy klaar die kos bedien het.

Die bestuurders van al drie sopkombuise is besonder dankbaar vir elke skenking wat hulle ontvang. Nie alleen is daar besighede wat hulle ondersteun nie, maar is daar ook individue wat gereeld skenkings maak. Hulle het almal ‘n liefdevolle passie vir hulle gemeenskap en nooi almal wat die behoefte het om te help of om skenkings te maak, om hulle te kontak. Skakel gerus vir Shaun Freeks, 072 482 3833, Joline Freeks, 084 337 7352, Matilda Meyer, 073 033 8830 en Hafsa Moosajee, 072 456 8824 indien jy betrokke wil raak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button