‘n Blondekop van Laerskool Baillie Park, Grace Groenewald (10), is verlede week as die wenner van die OFM-radiostasie se Joy Ride-kompetisie vir jong stemme aangewys. Deelnemers onder die ouderdom van 12 jaar kon inskryf deur ‘n stemboodskap te stuur en te sê waarom hulle van die middagprogram, Joy Ride, op OFM hou.
“Ons het saam radio geluister en toe hulle die kompetisie adverteer, was Grace opgewonde om in te skryf. “Ek het haar aangemoedig, maar gesê sy moet dit self doen. Toe ek weer sien, het sy tjop-tjop die Telegram-toepassing afgelaai en ‘n stemboodskap ingestuur. Ek weet nie eens hoe om dit te doen nie!” sê Grace se ma, Marnell Groenewald.
Grace het sowat 100 deelnemers uitgestof en met die volgende entoesiastiese stemboodskap die eerste plek losgeslaan: “Hallo OFM! Ek is mal oor julle stasie! Julle speel altyd lekker musiek en julle hou ons altyd veilig op die pad. Julle is altyd vol grappies dat ek nie my lag kan inhou nie, so komaan OFM, maak my deel van hierdie pret. Groete, Grace en ek is 10.”
Joy Ride is ‘n middagprogram op OFM met omroepers Nico van der Westhuizen, Mienke van Rooyen en Aaron Masemola wat weeksdae van 15:00 tot 18:00 aangebied word. As wenner moes Grace ‘n stemopname doen en omdat die omroepers in Bloemfontein gesetel is, is daar gereël dat sy ‘n kort advertensie, wat vooraf geskryf is, moes voordra. Hierdie opname het verlede Donderdag, 1 Oktober by PUK FM plaasgevind.

“Ek was baie opgewonde, maar het baie gestres,” erken Grace grootoog en vertel verlig dat die PUK-omroepers gelukkig baie vriendelik en geduldig was en dat haar foute later met die redigeringsproses reggestel sal word. Grace is verder baie opgewonde oor die R1 000 kontant wat sy as wenner losgeslaan het en kan nie wag dat haar gelukspakkie van OFM, met allerlei verrassings, afgelewer word nie.




