Honde baie rustiger vanjaar oor Oujaarsaand
Groot faktor hiervoor was dat daar vanjaar ‘n aandklokreël van 21:00 ingestel is en mense oor die algemeen minder vuurwerke as vroeër jare geskiet het.
Oujaarsaand met die gepaardgaande vuurwerke was vanjaar minder van ‘n kopseer vir Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) as vorige jare. ‘n Groot faktor hiervoor was dat daar vanjaar ‘n aandklokreël van 21:00 ingestel is en mense oor die algemeen minder vuurwerke as vroeër jare geskiet het.
Sodoende was daar minder diere wat ontsteld en paniekerig kon raak weens die oorverdowende geluide.
Volgens Paws se bestuurder, Herman van der Sluis, was daar definitief minder honde wat weens die vuurwerke se harde geluide buite erwe opgelaai moes word. “Gewoonlik sou ons tussen 25-30 honde op Oujaarsaand moes optel. Met die lockdown regulasies in plek, het ons vanjaar net vyf hondjies opgetel en aan hulle eienaars besorg. Hier en daar het mense steeds vuurwerke en klappers geskiet. Daar was ook twee beseerde honde wat ons veearts behandel het,” vertel hy.

In 2021 het Paws ook ‘n paar uitdagings weens die Covid-19 regulasies en dat Suid-Afrika tans in vlak-3 inperking is. “Met die nuwe inperkings kan ons nie groot fondsinsamelingsdae aanbied nie. Ons groot projek vir hierdie jaar is dat lede van die publiek of maatskappye en besighede hokke kan borg. Besighede sal dan naamplate kry wat op die hokke verskyn,” verduidelik hy.
Volgens Van der Sluis benodig Paws tans dringend komberse, veral in die reënseisoen, sowel as wasgoedpoeier om die komberse te was. Dipstof om honde vir bosluise te behandel is ook hoog op die lys. Vir meer besonderhede kan hy by 082 374 9983 geskakel word.




