Eienaar gaan haal self gesteelde hond
"Daar was ander mense by die huis, maar volgens hulle was die persoon wat die hond gesteel het, nie daar nie. Ek het my hond gesien en hom saam met my teruggeneem,”

‘n Klag van hondediefstal is die afgelope week in die kiem gesmoor toe ‘n Potchefstromer na ‘n drie dae lange soektog sy gesteelde hond by ‘n huis in Ikageng opgespoor het. Die eienaar, wat anoniem wil bly, sê sy hond het bytmerke gehad en hy dink dat die hond moontlik gesteel is met die doel om geld te maak en as aas vir hondegevegte gebruik te word.
“Ek en my verloofde het by ons huis aangekom en gesien dat die elektriese hek oop was. Ons het na ons hond geroep, maar daar was geen antwoord nie. “Ons het daarna op en af in die straat gery, maar niks gekry nie,” vertel hy. Die man vertel dat hy in verskillende woongebiede in Potchefstroom rondgery het om na sy hond te soek. Hy het ook plasings op Facebook oor sy gesteelde hond met die publiek gedeel. Hy het toe inligting ontvang dat sy hond moontlik in Ikageng naby die Ikageng-polisiestasie gesien is.
“Ek het van die kinders op straat gevra om saam my na my hond te soek. ‘n Hawelose man het ‘n rukkie daarna vir my gese dat hy weet waar die hond is, maar dat dit my R1 000 sou kos. “Ek het nie daardie geld gehad nie en het hom gedwing om my na die huis te neem.
Toe ons by die huis kom, het ons baie honde hoor blaf. “Daar was ander mense by die huis, maar volgens hulle was die persoon wat die hond gesteel het, nie daar nie. Ek het my hond gesien en hom saam met my teruggeneem,” vertel hy. Volgens die man is hy bly dat hy sy hond kon terugkry, maar in dieselfde asem waarsku hy die publiek dat honde-eienaars op hulle hoede moet wees.
“Ek dink dit is ‘n baie groter netwerk van mense wat saamwerk en nie net ‘n geïsoleerde geval nie. “Ek dink veral die mense wat trollies met herwinbare materiaal stoot, steek die gesteelde honde weg. Hulle kyk uit vir honde in die strate en dit bekommer my dat die honde in Potchefstroom so wegraak.”
Volgens die eienaar van die hond moet mense wat vermoed dat hulle hond gesteel is, vir Paws kontak en ‘n plasing op die Potch Pets groep se Facebookblad maak.

Dit is ook belangrik om in die omliggende gebiede vir jou vermiste hond te soek. “Ek sou mense ook aanraai om polisie toe te gaan en ‘n saak aan te meld. “Wanneer daar ‘n kennisgewing van ‘n vermiste hond geplaas word, moet jy ook nie ‘n vasgestelde bedrag gee nie, anders kan die persoon wat jou hond gesteel het, ‘n prys vir jou hond onderhandel. “Dit is belangrik om deursettingsvermoë te hê en nooit op te gee om jou dier te vind nie.”
Volgens Herman van der Sluis, bestuurder van Paws, is hulle bewus van die voorval en is dit nie die eerste keer dat honde so gesteel word nie. “Dit is belangrik dat eienaars na hulle sekuriteit kyk en nie hekke laat oopstaan nie. Die honde kan eerder in die agtererf gehou word. Slotte kan ook aan palissadehekke gesit word, aangesien hekmotors ook gebreek kan word om toegang te verkry.
Mense is nie altyd bedags by die huis nie,” noem hy. Hy verduidelik dat eienaars eers moet seker maak dat hulle hond nog leef en hulle die hond kan identifiseer voordat enige bedrag of beloning betaal word indien hulle hond vermis word.
* Die publiek kan ‘n e-pos aan wouter.pienaar@media24.com stuur indien hulle meer inligting oor hierdie saak verlang.




