CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Help Voetlig om kinders met trots skool toe te stuur

Voetlig Bedieninge samel fondse in om arm kinders met trots skool toe te stuur.

Deel van kinders se opgewondenheid om terug skool toe te gaan is om hulle skoolklere aan te trek en hul nuwe penne en inkleurkryt in hulle tas te pak. Maar hierdie basiese behoeftes is nie vir alle kinders beskore nie – kinders wat in ‘n karavaanstaanplek saam met hul ouers bly omdat hulle geen ander heenkome het nie.

Pastoor Petro Kotze het juis ‘n hart vir hierdie kinders en help die afgelope 11 jaar om arm Afrikaanse mense wat in Orkney bly, op te hef. Sy het ʼn nie-winsgewende organisasie, Voetlig Bedieninge, in 2010 gestig om vir hierdie kinders hoop en trots te gee. “My hart lê by hierdie kinders omdat hulle die swaarste ly in hierdie moeilike ekonomiese en politieke omstandighede in die land. Dit is nie húlle skuld dat hulle in hierdie omstandighede moet grootword nie.”

Sy vertel dat die kinders se grootste uitdaging die stigma is om arm te wees. Dit kleef aan hulle wanneer hulle met die res van die samelewing moet saamleef: “Om in ʼn karavaanstaanplek te lewe met net ʼn dun skadunet tussen jou en die natuurelemente is die minste van hierdie kinders se probleme. Dit is daardie afkeurende kyke van skoolmaats omdat jy arm is en jy nie al die basiese hulpmiddele het om oor die weg te kom nie. By die kleuters is daar ʼn soort aanvaarding van hul omstandighede. By die amper-tieners ʼn skaamheid en by die tieners ʼn woede wat jou hart wil breek. Woede oor hul omstandighede, skaamheid oor wie hul is en hoe die wêreld op hul neersien. Dit is waarom Voetlig doen wat hulle doen”, sê Petro.

Hierdie bediening wil die kinders se skaamheid en kwaad aanraak met regte omgee. “Elke mens is kosbaar, maak nie saak wie hy/sy is, waar hy/sy bly of wat in hul lewens verkeerd gegaan het nie.” Voetlig bedieninge help om die behoeftes van 70 kinders aan te spreek en hulle kan dit nie sonder die hulp van die gemeenskap doen nie.

Een van die maniere waarop hulle geld insamel is ʼn winkel waar hulle goedere wat geskenk word, verkoop om aan almal se daaglikse etes, doeke, melk vir babas te voorsien. Om die kinders met skooluniforms, tasse en skryfbehoeftes te help, het meer insette nodig.

In Potchefstroom kan goedere vir die winkel by Dirk Minny van Ultra Motors (Beyers Naudelaan 100) afgelaai word. Enige iets van klere tot linne, breekgoed, speelgoed, elektriese toerusting en selfs meubels is welkom. Finansiële bydraes kan inbetaal word by Voetlig Bedieninge, Standard Bank (Klerksdorp), Tjekrekening nr: 030 668 557. Vir enige navrae, skakel pastoor Petro Kotze Odendaal by 076 986 5919.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button