SportSport

Oud-Gimmie rugbykaptein vier Curriebekersukses saam met Blou Bulle

"Dit is ‘n moeilike gevoel om te beskryf, aangesien die realiteit eers so ‘n dag na die tyd inskop dat ‘n mens ‘n Curriebekerwenner is."

Die oud-Gimmie rugbyspeler en huidige Blou Bulle stut, Gerhard Steenekamp, is vir die eerste keer in die bevoorregte posisie om die gesogte Curriebeker te lig. Steenekamp se droom om die beker te wen is die afgelope naweek bewaarheid toe die Blou Bulle die Sharks met 26-19 op Loftus Versfeld na 20 minute ekstra tyd geklop het. Sy spanmaat, Arno Botha, het die wendrie gedruk.

Gerhard Steenekamp, oud-Gimmie, lig die Curriebeker vir die eerste keer. Saam met hom is sy verloofde, Elbie Steyn. Foto: Verskaf

Alhoewel hy nie self in die finaal op die veld gedraf het nie, was dit steeds ‘n ongelooflike ervaring om deel van die wenspan te wees.

“Dit is ‘n moeilike gevoel om te beskryf, aangesien die realiteit eers so ‘n dag na die tyd inskop dat ‘n mens ‘n Curriebekerwenner is. Ek het dieselfde beker vasgehou as ander top Blou Bulle in die unie se ryke geskiedenis. As speler werk jy hard in die seisoen, so dit is ‘n beloning vir al die harde oefening en ure wat ‘n mens insit,” vertel hy.

Die voormalige Gimmie rugbykaptein van 2015 was ook vol lof vir sy span se deursettingsvermoë en vasbytmentaliteit.

“Dit was naelbyt in die finaal en om die wen deur te trek nadat ons agter was, het dit soeter gemaak. Ek dink omdat ons in ander wedstryde in die seisoen ook naelskraap gewen het, het dit ons geleer om sulke wedstryde te wen. Ons fiksheid was ook een van ons sterkpunte in die finaal,” noem Steenekamp. Hy het in 2016 by die Blou Bulle aangesluit en speel tans van sy beste rugby vir die unie onder Jake White as afrigter.

“Jake White het baie ervaring en het al as afrigter baie bekers gelig, so dit is vir my lekker om te sien hoe alles meer professioneel geword het. “By die Bulle het ons ‘n kultuur waar almal betrek word, of ons nou in die beginspan speel of nie. ‘n Mens voel deel van die span en weet jou bydrae tel,” vertel Steenekamp wat in die finaal op die kantlyn gesit het.

Die kans is goed dat die 23-jarige Steenekamp weer ‘n geleentheid sal kry om in ‘n Curriebekerfinaal uit te draf en sukses op die veld te proe. Vir nou is die eerste Curriebeker in die sak met nog baie trofeeplek op dié talentvolle speler se rak.

Die Potchefstromer, Gerhard Steenekamp, maak naam by Bulle op stut. Foto: https://www.thebulls.co.za/

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button