Covid-19 eis groot gees van Regte
Familie, kollegas en vriende rou oor die dood van prof. Stephen de la Harpe (63), uitvoerende dekaan van die regsfakulteit aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy is verlede Donderdagoggend, 18 Februarie weens Covid-19 komplikasies oorlede.
Familie, kollegas en vriende rou oor die dood van prof. Stephen de la Harpe (63), uitvoerende dekaan van die regsfakulteit aan die Noordwes-Universiteit (NWU). Hy is verlede Donderdagoggend, 18 Februarie weens Covid-19 komplikasies oorlede.
Prof. Linda du Plessis, die NWU se waarnemende visekanselier, het Donderdag sy dood só aangekondig: “Dit is met groot hartseer dat ek die dood van prof. De la Harpe moet aankondig nadat hy vroeg in Januarie in die hospitaal opgeneem is. Prof. Stephen was ‘n warm en vriendelike individu met diepe integriteit. ‘n Man wat met ‘n sagte benadering ‘n groot impak op die mense rondom hom gemaak het en wat die NWU en spesifiek die Fakulteit Regte gedurende dikwels moeilike tye vorentoe geneem het.”

Prof. De la Harpe was vir 21 jaar aan die Noordwes-Universiteit verbonde. Sedert 1 April 2018 was hy die uitvoerende dekaan van die regsfakulteit. Hy was voorheen ook direkteur: nagraadse studies aan die Fakulteit Regte en het ‘n groot rol gespeel om die regsfakulteit te bemark.
Prof. De la Harpe se vrou, Hanri de la Harpe, besturende direkteur van Equilibria School of Life, vertel dat die hele gesin aan die begin van die jaar Covid-19 opgedoen het. Die kinders het ligte simptome gehad en is tuis geïsoleer. Hanri was self van 1-3 Januarie siek en in die bed, maar het op 4 Januarie weer beter gevoel. “Stephen is 7 Januarie dokter toe en het gehoor hy het dubbele Covid-19-longontsteking. Dr. Vermooten het antibiotika voorgeskryf en hy het by die huis geïsoleer en probeer aansterk.
Teen 11 Januarie is hy in die intensiewe sorgeenheid in Mediclinic opgeneem,” vertel Hanri. Sy sê die gesin het met hom per selfoon gekommunikeer totdat hy vanaf 17 Januarie onder sedasie geplaas is. Terwyl hy onder sedasie was, het hy ‘n beroerte gehad en bloeding op die brein gekry. Hy het, nadat die ventilator verwyder is en sedasie gestaak is, nie weer wakker geword nie en was weens die beroerte in ‘n koma. Hanri vertel dat hy daarna weer ‘n ligte beroerte gehad het. “Vanaf 11 Januarie tot 18 Februarie het hy ‘n verbete stryd om oorlewing in die intensiewe sorgeenheid gevoer. Sy toestand was een dag beter en weer die volgende dag kritiek,” sê sy.
Prof. Stephen het later nierversaking gekry en moes daagliks dialise ontvang. Uiteindelik het dit geblyk dat die beroerte sy asemhaling verswak het. “Die virus is meedoënloos,” sê Hanri. Sy vertel dat die personeel by die intensiewe sorgeenheid baie behulpsaam was – hulle het vir hom gebid en gereeld aan die gesin terugvoer gegee. Sy sê die dokters was uitstekend en het medies alles in hul vermoë gedoen om haar man te help.
Vir Hanri en haar vier dogters was dit steeds ‘n groot skok om ‘n eggenoot en pa aan die dood af te staan. “Ons sal hom onthou vir sy groot hart en sy liefde, sy nederigheid, vrygewigheid, sy mooi sin vir humor, sy optimisme, sy fieterjasie-loosheid, sy innerlike krag en sy wysheid,” sê Hanri.
Sedert prof. De la Harpe se afsterwe word die gesin oorval met huldeblyke en bemoedigingsboodskappe van familie, vriende, studente en kollegas vir wie hy so baie beteken het.
So skryf Gerrit en Elize Pienaar, vriende van die familie: “Stephen was geseën met buitengewone talente – ‘n briljante verstand, skerp insig, bestuurs- en leierskapsvaardighede, medemenslikheid, ‘n liefdevolle persoonlikheid en nog baie ander. Ons wil egter twee daarvan uitlig. Integriteit: Stephen kon oneerlikheid, skynheiligheid, snobisme, onregverdigheid en ongeregtigheid nie aanvaar of verdra nie, daarom het hy hom onvermoeid beywer om rassisme, seksisme, xenofobie en ander soortgelyke uitwasse teen te staan en selfs waar nodig te beveg. Hy het ‘n baie sagte hart vir benadeeldes gehad. Lojaliteit: Stephen was onvoorwaardelik lojaal aan sy gesin en familie, vriende, kollegas, Fakulteit en universiteite (Tukkies en NWU). Dit was nie ‘n blinde lojaliteit wat maar al ons gebreke en tekortkominge kritiekloos aanvaar het nie, maar ‘n sagte en liefdevolle lojaliteit wat ons aangemoedig het om ons tekortkominge te verbeter, ons foute regte stel en ons prestasies te verhoog. Ons eer sy nagedagtenis.”
Prof. Christa Rautenbach,’n regsprofessor aan die NWU skryf: “Die Hemelse Vader se planne is duister, maar dit is duidelik dat hy jou nodig gehad het. Hierdie wete maak dit nie vir ons wat agterbly makliker nie, veral nie vir jou familie nie. Jou vroeë heengaan laat ’n leemte wat nie gevul kan word nie. Dankie vir jare se leiding, geduld en vriendskap. My gebede en troos is met jou familie en vriende in hierdie moeilike tyd! Rus in vrede!’
Prof. Robert Balfour, adjunk visekanselier van onderrig en leer (NWU) skryf:
“Stephen de la Harpe was a man who inspired confidence and confidences: someone who could be trusted to provide both sincere and informed perspectives on the challenges of leadership, who, while always considered and cautious, was never afraid to offer different views. A generous-spirited person, Stephen’s gentleness and integrity were matched only by his sense of humour and equanimity in situations, whether complex or simple. He was a man of passions: his family, the farm and its cattle, scholarship and colleagues: there were care and wisdom wide enough for all to share in and benefit from. It seems unbelievable that, after so long and valiant a struggle with Covid-19, and the glimpses of recovery in the last weeks, Stephen is not with us. The gap, the shock and loss are unreal.”
’n Aanlyn gedenkdiens word Vrydag, 26 Februarie van 11:00-12:00 via facebookblad Celebrating Stephen de la Harpe aangebied.
Vriende en kollegas word genooi om die deurry (drive through) huldeblyk en blommehuldeblyk geleentheid na die diens om 12:15 by die Every Nation Praise Park, Tarentaalstraat 1, Mooivallei Park by te woon.



