Kies jou kos hierdie Sondag by Rooy-kosmark
Die Rooy kosmark en kattebakverkoping (Car Boot Sale) vind weer op Sondag, 28 Februarie by die Van Rooyensaal (Piet Bosmanstraat) plaas.
Die Rooy kosmark en kattebakverkoping (Car Boot Sale) vind weer op Sondag, 28 Februarie by die Van Rooyensaal (Piet Bosmanstraat) plaas. Van 10:00-15:00 word daar gekoop en verkoop, geproe en ervaar.
‘n Professionele sjef, Tania van Rooyen, sorg al vir die afgelope ses jaar dat die publiek se sintuie hier behoorlik geprikkel word.

Dié mark is bekend vir hulle bloedlemoen gin en verkoop nou ook Paternoster bier, al die pad van dié vissersdorpie af. Fynproewers kan onder meer kies tussen heerlike Maleise lamskerrie, tradisionele skaapafval, beesstert met stampmielies en kerrie en rys. Vir die droë keel is daar verder boetiekbier en wyn. Soettande kan ook nader staan vir ‘n verskeidenheid vars koekies en beskuit, borreltee in verskillende geure, roomys en ‘n wye verskeidenheid ‘brownies’.
Behalwe vir die heerlike ete en drinke, is daar ook juweliersware, leerprodukte en klere, asook hout en draad handwerkprodukte te koop. Versamelaars van oudhede kan met die kattebakverkoping (Car Boot Sale) dalk ook ‘n verrassing of twee ontdek.
Kinders word met die poppekas, sprokiesagtige gesigverf, ‘n springkasteel en ‘n verskeidenheid speletjies bederf. Let wel, alle uitstallers en besoekers is verplig om Covid-19-protokol te volg.
Diegene wat graag nog deel wil wees van die mark en hul produkte of goedere wil verkoop, kan gerus vir Tania by 079 918 2092 kontak. Stuur ‘n e-pos na hullabaloo.decorhire@gmail.com. Die volgende mark word weer op Sondag, 25 April aangebied.




