Skielike brand by droogskoonmakers nie ernstig
'n Vuur wat Woensdagmiddag rondom 14:00 in die stoomketelkamer (boiler room) by Same Day Drycleaners uitgebreek het, was gelukkig gou onder beheer en het nie ernstige skade aan die res van die gebou gerig nie.

‘n Vuur wat Woensdagmiddag rondom 14:00 in die stoomketelkamer (boiler room) by Same Day Drycleaners uitgebreek het, was gelukkig gou onder beheer en het nie ernstige skade aan die res van die gebou gerig nie.
“Ek is so bly dat daar geen skade aan die klere en linne aangerig is nie”, sê Annette Jacobs verlig. Sy is een van die oorspronklike eienaars wat sedert 1982 die droogskoonmakers naby die Taxistaanplek in Potchefstroom bedryf. Dit is die enigste droogskoonmakers in Potchefstroom.
Danksy ʼn sekuriteitsbeampte buite die gebou wat rook uit die dak van die besigheid sien trek het en die eienaars dadelik in kennis gestel het, kon die brand gou geblus word. “Ek is so dankbaar vir die brandweer wat vinnig op die toneel was en ons bure wat ons dadelik te hulp gesnel en hulle brandblussers aangebied het om die brand te keer”, sê Annette.

“Alle eer aan die Here wat sy hand van beskerming oor ons gehou het”, sê sy en voeg by dat niemand ook in die brand beseer is nie. Hulle kan sover nie bepaal wat die presiese oorsaak van die brand was nie. Die assessors sal eers later vanmiddag die skade van die brand vasstel.
Die stoomketelkamer is aan die agterkant van die gebou geleë. Annette vertel dat die stoomketel met diesel aangedryf word en dat dit stoom aan masjiene verskaf waarmee hulle die klere en linne stryk. “Ons dienste gaan voort en ons stoomstryk nou al die klere intussen met ons hande totdat die masjiene weer in werking is”, sê sy met ‘n groot glimlag.