Ferdies ondersteun ouers met insiggewende seminare
Ferdies wil hulle leerlinge motiveer om goedhartig teenoor hul medemens op te tree en stel 'n voorbeeld deur ‘n reeks gratis seminare aan te bied waar hulle na die gemeenskap uitreik.
Pay It Forward is ‘n Engelse uitdrukking wat beteken dat wanneer iemand in goedhartigheid teenoor jou optree, jy uit dankbaarheid daarop reageer deur goedhartig teenoor iemand anders te wees.
Ferdies se onderwysers wil hierdie gebaar aan hul leerlinge oordra en stel self ‘n voorbeeld met ‘n reeks beplande seminare waar hulle na die gemeenskap uitreik.
In die eerste gratis seminaar wat die hoërskool op 15 April in samewerking met die CHHP Care2Kids van die NWU aangebied het, het hulle aan ouers ondersteuning gebied en verduidelik hoe om op te tree teenoor kinders wat spanning tydens die Covid-typerk ervaar. Hanlie Degenaar en haar span kundiges het aan die ouers verduidelik hoe die menslike brein en gedrag tydens “sudden-change” lewensgebeure funksioneer. Presies soos die gebeure van ‘n wêreldwye grendeltydperk, en regulasies wat almal se daaglikse roetine beïnvloed. Die span het die inligting op ‘n eenvoudige wyse oorgedra en beklemtoon dat die impak groter is op die mens as wat ons besef. Hulle het selfs verduidelik hoekom ‘n mens so uit plek voel met ‘n masker aan en hoe dit werklik die brein se funksie affekteer.
Daar is verduidelik wat ouers kan doen om “in te loer” by hulself om gereeld seker te maak dat hulle self goed aanpas by die wêreldgebeure, sodat hulle in staat is om na hulle eie kinders om te sien. Ouers se eie stresvlakke en manier van streshantering het ‘n groot invloed op hul kinders. Daar was ook op ‘n pret manier aan die ouers verduidelik hoe mens te werk kan gaan om die brein weer te aktiveer om take meer gemotiveerd aan te pak. Ouers wat die aand nie die seminaar kon bywoon nie, is steeds welkom om die skool per e-pos by chat@ferdies.co.za te kontak om die brosjure aan te vra wat die praatjie opsom.
Ferdies beoog om later in die jaar nog drie gratis seminare vir ouers aan te bied. Hou gerus die Herald en Ferdies se Facebookblad dop vir meer inligting.




