
Laerskool Mooirivier het Dinsdag, 11 Mei tydelik gesluit nadat ‘n leerling en personeel positief vir die Covid-19 virus getoets het. Die skool het ‘n brief aan leerlinge se ouers uitgestuur waarin hulle verdere reëlings gekommunikeer het.
Netwerk24 het berig dat die skoolhoof, Jakkie van Vuuren, die ouers meegedeel het dat ‘n leerling, van die onderwysers en twee administratiewe personeellede positief getoets het en dat die skool tot Maandag, 17 Mei gesluit sal wees sodat die nodige ontsmetting kan plaasvind. Van Vuuren het ook bevestig dat die skool aan die onderwysdepartement se reëls en regulasies verbonde is.
Die hoof het inligting gegee oor hoe die klaswerk vir die res van die week hanteer gaan word en dat alle buitemuurse aktiwiteite vir eers gestop het. Die skool het gevra dat ouers hulle kinders moet monitor en indien hulle simptome toon, dat hulle die skool dadelik daarvan in kennis moet stel. Kinders met simptome mag nie Maandag weer terugkeer skool toe nie. Hulle moet vir ‘n Covid-19 toets gaan en vir 10 dae by die huis isoleer. Kinders wat geen simptome toon nie, kan Maandag weer terugkeer skool toe.
Volgens Klerksdorp Record, is Matlosana (Klerksdorp) tans die Covid-19 brandpunt met die meeste Covid-19 gevalle in die Noordwes. Die Hoër Tegniese Skool in Klerksdorp het 18 positiewe gevalle en is ook gesluit.
Hoërskool Wesvalia het ook bevestig dat hulle matriekleerlinge sedert Maandag in isolasie is. Volgens die Klerksdorp Record is alle skolesport in Matlosana tot verdere kennisgewing gekanselleer.




