Dit was harde werk, maar Potchefstroom Dorp Rugbyklub se eerste span het ‘n wen agter die rug na hulle eerste Neserligawedstryd vanjaar teen Ikageng.
Potch Dorp het die wedstryd wat Saterdag, 8 Mei plaasgevind het met 50-32 gewen, maar die telkaart vlei die tuisspan wat op ‘n stadium kop-aan-kop met Ikageng was. Dorp het sewe drieë gedruk met die linkervleuel Victer Vlok, wat die wedstryd met ‘n driekuns beklink het.
Die voormalige Volkie het met uitstekende drieë in kritieke tye sy spoed en vaart bewys. Justin Engles, KG Mathe, Francois van Niekerk, en Danie van der Merwe het ook elkeen ‘n drie gedruk. Ikageng het op ‘n stadium die tuisspan op hol gehad met hulle aanvallende en ongestruktureerde spel.
Hulle het ‘n paar flambojante drieë gedruk en teen halftyd met 25-21 voorgeloop. Die laaste 20 minute voor halftyd en eerste 20 minute na halftyd het Ikageng goeie geleenthede gehad en goeie rugby gespeel. Potch Dorp het wel vasgebyt en danksy beter fiksheid, die laaste 20 minute oorheers om die oorhand te kry.
Marcel Burger (agtsteman) was een van die staatmakers vir Potch Dorp tesame met die skrumskakel, Danie van der Merwe en losskakel, Luan Murray. Murray het ook ses vervyfskoppe en ‘n strafskop oorgeklits terwyl sy skoppe uit die hand die druk ook telkemale verlig het.
Potch Dorp se hoofafrigter, Joe Smith, noem dat sy span se fiksheid en strukture gehelp het om die wen te behaal.
“Ons het te veel hulle wedstryd probeer speel en nie ons eie plan gevolg nie, maar wanneer ons ons spelpatroon gevolg het, kon ons oorheers. Dit was lekker om te sien dat die spelers lus was om alles in te sit. Ek kon ook na die naweek sien watter spelers uitblink in beide die eerste en tweede spanne en ons kan nou ‘n beter idee hê van hoe ons span teen Westonaria sal lyk,” noem Smith.
Potch Dorp se tweede span het ook hulle staal gewys en ‘n gemaklike 40-3 sege teen Khuma in die Reserweliga behaal. Potch Dorp se eerste span speel komende Saterdag teen Westonaria in ‘n wegwedstryd. Potch Dorp 2 speel teen Kloof in ‘n wegwedstryd.
Foto’s: Wouter Pienaar






















