CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Personeel van Amelia Nasorg maak ‘n kreatiewe plan om hul Covid-terugslag te oorkom

Amelia Nasorg, die sentrum vir intellektueel gestremde volwassenes in Baillie Park het verlede jaar met die streng inperking ‘n groot finansiële terugslag gekry. Boonop is hul aansoek vir staatsubsidie vir 2021 nog nie gefinaliseer nie.

“Ons moet R1 miljoen insamel om weer op die been te kom.” So sê Lizelle Kock, finansiële beampte van Amelia Nasorgsentrum, bekommerd.

Dié sentrum vir intellektueel gestremde volwassenes in Baillie Park het verlede jaar met die streng inperking ‘n groot finansiële terugslag gekry. Hulle het die staatsubsidie van R160 000 per maand verbeur omdat meer as die helfte van die 130 inwoners na hulle huise  teruggekeer het.

Volgens Lizelle kry die sentrum gewoonlik ‘n staatsbydrae van R2 100 per inwoner per maand, maar dié bydraes het weggeval omdat hulle nie by die sentrum gebly het nie. Boonop moes hulle steeds die sentrum se water-en-ligte-rekening betaal. “Dié rekening wissel van R80 000 tot R120 000 per maand en het onveranderd gebly,” sê Lizelle. Om alles te kroon was dit ook die tydperk wat sekere toestelle soos geisers, die yskas en die stoof by die sentrum opgepak het.

Gelukkig bly die personeel positief en doen hulle ‘n beroep op die gemeenskap om hulle met ‘n fondsinsamelingsprojek te help. Adele Deale, ‘n kunsvlyt instrukteur by Amelia, het met die briljante plan vorendag gekom om ‘n fondsinsamelingsprojek te begin waar lede van die publiek elkeen slegs R1 vir die sentrum skenk. “Dink net, as een miljoen mense elk net R1 kan gee, sal ons krisis verby wees,” sê Adele hoopvol.

Personeel van Amelia Nasorg nooi almal uit omt aan die R1 Challenge deel te neem. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die personeel is boonop positief genoeg om aan ‘n prettige uitdaging deel te neem. Die publiek kan voorstelle stuur waaraan die personeel en inwoners sal voldoen wanneer hulle die helfte van die fondse ingesamel het en weer aan die einde wanneer hulle die doelwit van R1 miljoen bereik het. “Dit moet net haalbare uitdagings wees, soos byvoorbeeld om vir ‘n hele dag met nagklere te loop,” lag Adele. Die personeel verwelkom enige voorstelle wat via e-pos na finansies@amelians.org gestuur kan word.

Die sentrum het sover nog net vyf inwoners gehad wat positief vir Covid-19 getoets het. Een van hulle is oorlede. Die ander vier, waarvan een die oudste inwoner van die sentrum is, Lollie Welgemoed, het dit oorleef. Die kliniek was daarna vir 14 dae onder kwarantyn. Tydens dié tydperk moes die sentrum ook stafverpleegsters huur om vir twee weke die siek inwoners voltyds te versorg. Hiervoor moes die sentrum R35 000 uithaal.

Lollie Welgemoed (77), die oudste inwoner van Amelia Nasorgsentrum, het herstel nadat sy Covid-19 gehad het. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die hoof van Amelia Nasorg, Hannelie Steyn, sê die publiek het voor die Covid-tydperk graag by die sentrum ingeloer en hulle ondersteun. “Die inwoners geniet die besoeke van die publiek, maar ons moes dit stop. Hulle kan ook nie meer op uitstappies gaan soos om Vrydae lekkergoed by die Spar te koop nie. Waar ons die inwoners een keer per week bederf het met ‘n fliekaand en ‘n lekkerny, kan ons dit ook nie meer doen nie. Ons moet nou selfs die spyskaart aanpas dat hulle net elke tweede dag vleis eet,” sê Hannelie.

Volgens die personeel is die publiek sover baie positief met die fondsinsameling en het Baillie Park Laerskool begin om ander skole uit te daag. Daar is al besighede wat ook groot skenkings gemaak het. Die publiek wat graag ook skenkings wil maak, kan geld in die volgende bankrekening inbetaal: Rekeningnaam: Amelia Nasorgsentrum, Bank: Absa, Rekeningnommer: 680 960 283, Takkode: 632 005, Verwysing: R1 Challenge.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button