Plaaslike kunstenaar se werk vir ekslusiewe portretuitstalling gekies
Lydia Agenbag is ‘n plaaslike kunstenaar wie se portretstudie onlangs vir die “Portrait Award 2021” uitstalling gekies is.
Lydia Agenbag is ‘n plaaslike kunstenaar wie se portretstudie onlangs vir die “Portrait Award 2021” uitstalling gekies is. Dié prestige kompetisie wat vir die eerste keer in 2013 deur die Rust-en-Vrede Galery in Durbanville geloods is, is elke tweede jaar ‘n hoogtepunt op die kunskalender in Suid-Afrika. Die beste 100 werke word in Rust en Vrede Galery en die Rupert Museum te koop aangebied.
Kunstenaars skryf landwyd vir dié kompetisie in en staan ‘n kans om groot pryse van Sanlam Private Wealth te wen. Die prysgeld van vanjaar se eerste prys het R150 000 beloop, terwyl die tweede prys R30 000 en die derde prys R20 000 was.
Hoewel baie kunstenaars hulle tande slyp om prysgeld te wen, is dit vir die meeste eintlik net ‘n groot eer as jou kunswerk onder die top 100 werke eindig. Beslis ‘n groot prestasie wanneer beoordelaars uit honderde werke moet kies. Vanjaar het die galery 919 inskrywings ontvang.
Lydia was een van die welverdiende kunstenaars wie se kunswerk onder die top 100 geëindig het en haar werk word tans in die Rupert Museum in Stellenbosch uitgestal. Met die vorige kompetisie het sy ook onder die eerste 100 kunstenaars geëindig. “Ek kon nie glo dat my werk vanjaar weer so goed gevaar het nie. Ek het nog altyd gevoel my kunswerke pas nêrens in nie,” sê sy met ‘n skaam glimlag.
Haar skildery, Just another snapshot moment, is ‘n portretstudie uit pastel wat sy van ‘n foto gemaak het. Die foto het sy jare terug van haar dogter, Shené Agenbag, geneem toe sy 10 jaar oud was.

Wanneer jy na die superrealistiese kunswerk van Lydia kyk, staan jy verstom oor die uitstekende realistiese vormgewing, kleurgebruik en die keuse van haar onderwerp. Wie het nou ooit kon dink dat ‘n foto van ‘n sopnat meisiekind by ‘n swembad kan deurgaan as ‘n portret? Die meeste van ons dink aan ‘n portret as ‘n skildery van ‘n belangrike persoon in hul beste klere wat formeel en staties geposisioneer is.
Portretkuns dateer sover as 5 000 jaar gelede toe die Egiptenare mense se afbeeldings vasgevang het. Voor die uitvinding van die kamera was daar al die behoefte om ‘n persoon se portret te skilder, teken of in ‘n beeldhouwerk vas te vang. Vandag het die portretstudie as kunsvorm ‘n groot verandering ondergaan.
Lydia het aanvanklik geworstel om die regte onderwerp te kies. “Ek het net geweet ek wil iets opbeurends, ligs maak. Met die inperking wat so ‘n demper op alles geplaas het, het ek nie kans gesien vir ‘n beswaarde onderwerp nie.
“Ek het onthou van my gunstelingfoto wat ek van my dogter geneem het. Ek kon nie die oorspronklike foto vind nie, maar het moeite gedoen om die foto op ‘n gebreekte rekenaar se hardeskyf op te spoor”, lag sy.
Sy vertel dat sy doelbewus ‘n onderwerp gekies het wat die meeste kunstenaars en selfs beoordelaars nie sou kies nie. “Vandag se kunstenaars is eintlik lief daarvoor om donker, morbiede en kontroversiële temas uit te beeld”, sê Lydia wat nie regtig belangstel om op aanskouers se sosio-maatskaplike gewete te speel nie. “Ek wou net ‘n kinderportret skep wat die onskuld en vreugde van ‘n kind vasvang. Ek het daarom gekies om Shené op haar gelukkigste uit te beeld – in die swembad”, sê Lydia. Shené se “girly girl”-karakter kom verder na vore in die pienk naellak wat sy aan haar naels het.
Lydia het wye draaie geloop tot waar sy vandag is. “Ek kom uit ‘n konserwatiewe huisgesin van Namibië. Ek was nooit die tipiese rebelse kunstenaar nie. Dit was nie vir my nodig om soos die meeste ‘weird’ te wees nie, daarom het ek bietjie uit gevoel toe ek studeer het”, vertel sy. Sy het van vroeg af geteken en het haarself geleer teken toe sy op skool was. “Ek het die sketse in die Huisgenoot wat by die vervolgverhale verskyn het probeer naboots totdat ek al die tegnieke reggekry het.
Sy was baie skaam en selfbewus en het na haar studies in beeldende kuns by Kovsies slegs kuns geskep wat sy vir haarself gehou het. “Ek het my kunswerke net vir my naaste vriendinne gewys”, vertel sy. Haar wêreld het later vir haar oop gegaan toe sy haar gunsteling medium, pastelle, ontdek het. Sy het later opdragwerke vir mense gedoen wat meestal portrette van hul geliefdes en van hulle troeteldiere was.

Sy het later moed gekry om galerye te nader, maar sy vertel dat haar styl nie vir almal altyd toeganklik is nie. “Daar is baie mense wat nie van my surrealisme en simbole in my werke hou nie. Een kurator het vir my gesê my werk is té populêr en dat ek my simbole moet verander. Kunstenaars is eintlik brose wesens en stel hulself bloot met die werke wat hulle uitbeeld. Ek het daarna nie ‘n baie goeie selfbeeld gehad nie, maar het net besluit dat ek nie gaan verander omdat ander so sê nie en dat ek getrou aan myself wil bly”, sê Lydia.
Sy het later met ‘n reeks sirkelvormige werke begin waarin sy haar diep Christelike waardes uitgebeeld het. Vroue wat swaar tye beleef maar wat weens hulle geloof alles kan oorleef. Sy gebruik simbole soos die mot wat geloof in donker tye uitbeeld. “Motte wat om lig draai kan positief of negatief wees, want die verkeerde lig (versoekings) kan jou seer maak. In die meeste van my skilderye teken ek motte wat agter goeie lig aan was”, sê Lydia.
‘n Ander simbool wat sterk in haar werke figureer, is ‘n dun rooi tou wat vir haar die draadjie van geloof is. Sy vertel dit herinner haar aan Ragab van die Bybel wat ‘n rooi tou vir die verspieders laat sak het – ‘n simbool van haar geloof wat haar gered het.
Lydia is vandag ‘n suksesvolle kunsonderwyser wat kunsklasse vir volwassenes op weeksoggende aanbied. Sy dink steeds in dié kompetisie sy is die ‘buiteperd’ wat alle verwagtinge oortref het. Maar dit is nie net die Potchefstromers wat dink dat sy ‘n briljante kunstenaar is nie – haar kunswerk van haar dogter is een van nege portretstudies uit die 100 wat sover verkoop is.








