Om 160,9 kilometer in minder as 16 ure af te lê, is nie kinderspeletjies nie.
Die Berts Bricks-atletiekklubatleet, Johnny Jansen van Rensburg, het dié afstand in slegs 15:40:58 voltooi om as die wenner van die legendariese Washie Ultramarathon gekroon te word.
Die Washie Ultramarathon vind sedert 1977 vanaf Cathcart tot in Oos-Londen plaas. Vanjaar was daar die tweede grootste inskrywing in die wedloop se 48-jarige geskiedenis. Dit is ook die oudste 100-myl-padwedloop ter wêreld. Atlete spring om 17:00 in Cathcart weg (31 Julie) en moet teen 19:00 die volgende aand (1 Augustus) die eindstreep in Oos-Londen in slegs 26 ure bereik.

Dit was Johnny se vierde deelname aan die Washie nadat hy sy debuut in 2013 as ‘n 21-jarige gemaak het. Hy het die wedloop destyds in 25:28:09 voltooi. Daarna het hy progressief verbeter met tye van 23:13:25 in 2016 en 21:06:17 in 2017. Nege jaar later het Johnny verstom deur ongeveer ses ure van sy vorige beste tyd af te sny.
“Dié wedloop was vanjaar vir my besonders oor die ondersteuning wat ek gekry het. My span bestaan uit vriende wat ek reeds van my skooldae aan Hoërskool Lichtenburg ken. Hulle is Paul Badenhorst, Johan Celliers, Jannie de Swardt, Louis de Jager en Wico du Toit. Party van hulle ken ek al van kleuterskooldae af. Die wedloop sou nie sonder hulle moontlik gewees het nie. Ek sal hulle vir ewig dankbaar wees,” vertel Johnny.

Met die feit dat ‘n gedeelte van die Washie snags plaasvind, het Johnny ter voorbereiding verskeie kere alleen in die donker gaan hardloop en afstande van 36 km afgelê.
“Dit is nie iets wat lekker is nie, maar ek het geweet dit sou dividende by die Washie betaal. Ek het ook ná Comrades ‘n 45 km-oefenlopie gedoen, want ek het gevoel dit was sielkundig nodig.
“Wat voorbereiding betref, is daar nie veel wat jy anders doen as wanneer jy vir Comrades voorberei nie. Die enigste verskil is dat wanneer almal ná Comrades in Junie klaar is, neem hulle twee tot drie weke af. Ons wat die Washie doen, moes egter vinnig weer aan die gang kom,” vertel Johnny.

Johnny, ‘n dosent in risikobestuur aan die Noordwes-Universiteit (NWU), het vanjaar ook ‘n puik tyd in die Comrades Marathon behaal toe hy ‘n silwermedalje gewen het. Hy het die eindstreep in 7:25:31 oorgesteek.



