CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Entstowwe vir babas vir maande nie by klinieke beskikbaar

Inwoners van Promosa is bekommerd oor hul babas wat sedert hul geboorte nie die nodige inentings ontvang nie. Dit blyk nou dat ander klinieke ook nie al die entstowwe het nie.

Inwoners van Promosa is bekommerd oor hul babas wat sedert hul geboorte nie die nodige inentings ontvang nie. Een van die ma’s wat die kliniek gereeld besoek en anoniem wil bly, sê haar baba is al sewe maande oud en het nog net ses van die 11 inentings gekry wat vir babas voorgeskryf word.

Die inentings wat die baba nog nie gekry het nie, is BCG (Bacilles Calmette Gueri) met geboorte. Dié inenting word gebruik om tuberkulose, meningitis en miliersiekte by kinders te voorkom en ‘n baba moet dit kry voordat hy/sy een jaar oud is.

Die tweede inenting wat die baba nog nie gekry het nie, is die opvolg inenting Hexavalent (DTaP-IPV-Hib-HBV (2) wat babas inent teen difterie, tetanus, asellulêre kinkhoes en ‘n geïnaktiveerde polio entstof. Dit word vir babas op 10 weke voorgeskryf.

Die derde entstof wat die baba op 14 weke moes kry, is PCV2 wat ‘n gekonjugeerde opvolg inenting met pneumokokke is. Dit beskerm babas teen die pneumokokke bakterie wat oorinfeksie, sinusinfeksie, breinvliesontsteking en bakteremie (infeksie in die bloed) veroorsaak.

Die vierde entstof wat die baba ook op 14 weke moes kry, is die derde inenting Hexavalent inenting en die belangrikste entstof wat ontbreek is die eerste inenting teen masels wat die baba op ses maande moet kry.

Meer as een ma het aan die Herald vertel dat hulle ook ongelukkig is oor die manier waarop die verpleegpersoneel die kliniekgangers behandel. “Ons moet verlof neem by die werk en vir ure by die kliniek wag net om te hoor wanneer dit jou beurt is dat die entstof nie beskikbaar is nie,” vertel een van die ontstelde ma’s. Hulle stel voor dat die verpleegpersoneel van Promosa Kliniek ‘n kennisgewing teen die muur opsit om ma’s in te lig watter entstowwe nie beskikbaar is nie. “Dit word by ander klinieke in Ikageng gedoen, waarom kan hulle dit nie hier doen nie,” sê nog ‘n ma. Die Herald het met ‘n professionele verpleegkundige gepraat wat jarelange ervaring by klinieke het. Die persoon wou ook anoniem bly. Volgens die verpleegkundige is daar tans ‘n personeeltekort by Promosa Kliniek en raai sy kliniekgangers aan om seker te maak die entstof wat hul baba moet kry, is by die kliniek voor hulle vir ure in die ry moet sit.

Die verpleegkundige sê ook dat die tekort aan entstowwe nie net by Promosa Kliniek voorkom nie. “Daar was vir twee maande by sekere klinieke regoor Potchefstroom ook nie al die entstowwe beskikbaar nie. Sy noem dat daar regoor die Noordwes tans probleme met die beskikbaarheid van entstowwe is.

Die Herald het die woordvoerder van die departement van gesondheid in die Noordwes, Tebogo Lekgethwane, vir kommentaar genader. Hy sê ‘n opname het getoon dat die beskikbaarheid van entstowwe bo 90% in die provinsie is. “Daar is ‘n paar fasiliteite sonder entstowwe, wat toegeskryf kan word aan uitdagings binne die voorsieningsketting wat tans aangespreek word. Dit sluit herverdeling van voorraad in,” sê Lekgethwane. Volgens hom het die Noordwes provinsie onlangs verskillende voorraad van entstowwe ontvang en is dit besig om na meer as agt hospitale versprei te word. Dié hospitale sal entstowwe na omliggende klinieke versprei. “Die departement van gesondheid erken ook dat daar uitdagings was rondom die betaling van verskillende verskaffers van entstowwe (soos Biovac). Uitstaande betalings aan die verskaffers word voortdurend aangespreek en die verskaffers is besig om weer voorraad aan die provinsie vry te stel,” sê Lekgethwane.

Die Herald het Clicks genader om uit te vind wat die kostes van die uitstaande entstowwe is van die baba wat hier bo genoem word.
1. BCG (Bacilles Calmette Gueri) – nie beskikbaar by Clicks nie
2. DTaP-IPV-Hib-HBV (2) – R 592.72
3. PCV2 – R 946.83
4. DTaP-IPV-Hib-HBV (3) – R 592.72
5. Masels 1 – R106.00.

Sou die ma die entstowwe self betaal, sal dit haar R2 238,27 kos. Die BCG entstof word nie deur Clicks aangehou nie, maar slegs by hospitale en 24-uur klinieke waar babas gebore word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button