SportSport

Bonjour! Pellow deel herinneringe by Olënpark na dekade in Frankryk

Die voormalige Luiperds haker, Pellow van der Westhuizen, het kom inloer in by sy ou speelveld.

Daar was die afgelope Maandag, 18 Oktober nostalgie en heimwee op Olënpark in die lug toe een van die Luiperds se trotse rugbyprodukte, Pellow van der Westhuizen, kom inloer het.

Chaka Willemse, Pellow van der Westhuizen, Hannes Esterhuizen en Mervyn Taylor.

Dié haker speel vir die afgelope nege jaar rugby in Frankryk en is ook nou ‘n Franse burger. Hy is tans in Suid-Afrika waar hy vir familie kom kuier. Hy draf tans vir Castelsarrasin in die Federale 1 (derde liga) uit en het voorheen vir Colomiers (Pro D2), Clermont Ferrand (Top 14) en Montauban (Pro D2) op die rugbyveld verteenwoordig.

Hy vergeet wel nooit waar hy sy rugbystorie in die Noordwes begin het nie.

Sedert hy in 2003 by die destydse Puk (nou NWU) gearriveer het en vanaf 2005 tot 2010 sy merk by die Luiperds gemaak het, het hy as speler gegroei wat met meer as net emosie op die veld speel.

“Ek was ‘n ongeduldige speler en het baie keer besluite bevraagteken, maar ek weet nou dat om te luister is net so belangrik. Daar is so baie herinneringe by die Luiperds, maar wat vir my uitstaan is die professionaliteit wat ek hier geleer is. Dit het die fondasie vir my loopbaan gelê en waarom ek nou nog steeds professioneel kan rugby speel,” noem hy

.

Die afrigters wat Pellow as jong speler sien groei het, kon ook weer staaltjies deel en ‘n mens kon vanuit die staanspoor sien watter wedersydse respek daar tussen hom en sy voormalige afrigters, Chaka Willemse en Hannes Esterhuizen is.

“Dit is regtig lekker om weer my oud-afrigters te kon sien, veral omdat ek so lanklaas hier was. Dit is hier waar ek van my lekkerste rugby gespeel het en ook die hardste geoefen het,” vertel Pellow.

Hierdie nostalgiereis is ‘n stap verder geneem toe Pellow ‘n draai in die Luiperds se museum gemaak het en gedenkstukke gesien het van die wedstryd tussen die Royal XV en die Britse en Ierse Leeus-toerspan van 2009.

Pellow het in hierdie wedstryd in Rustenburg uitgedraf en het met ‘n groot glimlag op sy gesig na hierdie stuk geskiedenis teruggekyk.

ellow van der Westhuizen glimlag breed met een van sy ou Luiperdsfoto’s tydens sy besoek aan Olënpark. Foto: Pieter Möller

“Ek het nou nog kontak met ouens soos Ligtoring (Landman), Bom Samaai en volg maar die ouens so ook op sosiale media,” noem hy.

Voordat Pellow oorsee is, het hy ook die Pumas tot in 2012 verteenwoordig en ‘n kort tydperk in 2007 ook vir die Sharks gespeel.

Die aanpassing om rugby in Frankryk te speel was ook vir Pellow ‘n interessante ervaring en hy noem dat hy eers in Afrikaans moes kommunikeer en later maar Franse klasse moes draf om sy kommunikasie op te skerp.

“Vir die eerste vier maande het ek net lasagne en patties geëet,” lag hy.

Buiten rugby het Pellow ook in 2018 sy MBA in Besigheidsadministrasie by die Toulouse Business School saam met bekende rugbyspelers soos Bryan Habana, Guthrö Steenkamp en Heinke van der Merwe voltooi.

Dit is juis met sy werksetiek en ervaring wat hy nou naam in die invoer en uitvoerindustrie maak met die invoer van Suid-Afrikaanse wyn in Frankryk.

Hy het ook boonop onlangs sy troklisensie voltooi wat sy deure verder oopmaak. Vir jong opkomende rugbyspelers is sy raad om kanse te gebruik en geleenthede op te weeg rondom die voordele en nadele daarvan.

“Mense sal van jou praat as jy goed genoeg is. Jy hoef nie self te noem dat jy goed is nie. Dit is belangrik om nederig te bly en geleenthede te gebruik. Jong rugbyspelers moet ook nie hulle studies afskeep nie en ‘n graad kry om te beplan na rugby. Daar is waarde ook om te luister, eerder as om net te praat.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button