‘n Troeteldier is enige eienaar se hart se punt wat daagliks liefde in oorvloed uitdeel. Hulle is daar in die goeie en slegte tye – as die wêreld voel of dit teen jou draai is jou lieflike hondekind of kieterkat daar om vryfies uit te deel. Wat dan gemaak as jy nie by die huis is om na jou troeteldier om te sien nie?
Dalk gaan jy met vakansie vir ‘n week of twee of het net ‘n dol werksweek en kan nie daar wees vir jou dier wanneer dit etenstyd is nie?
Dit is waar ‘n troeteldieroppasser sommer spoedig daardie vrae met hulle veelsydigheid kom beantwoord. Die afgelope paar jaar het die take van ‘n troeteldieroppasser vermenigvuldig en kan dit al as ‘n voltydse beroep beskou word.
Daar is ‘n groot verskil om ‘n diens te lewer as troeteldieroppasser teenoor om vir jou buurvrou of familielid te vra om net gou ‘n ogie oor jou vierbeen liefie te hou.

Potch Herald het met Carole-Ann Schoeman (Camp Canine Pet Sitting), Liné de Bruyn (Bowwow Pet Sitting) en Ockie van der Westhuizen (Ockie’s Pet Sitting), drie plaaslike troeteldrieroppassers gaan gesels om meer uit te vind.
Van der Westhuizen noem dat hy al as kind gehelp het om honde op te pas en dit later as ‘n besigheidsgeleentheid gesien het.
“My take is om elke dag met ‘n besoek kos en nuwe water uit te sit, bal te speel en aandag te gee aan die diere. Soms gaan stap ek met die diere as hulle gewoond is om te stap,” verduidelik hy kortliks. Volgens Schoeman het sy in 2015 besluit om Camp Canine te begin om beide tuisbesoeke en honde van haar eie huis af op te pas.
“Om ‘n pet sitter te wees moet jy verantwoordelik wees, mense vertrou jou om seker te maak dat hulle diere liefde en aandag kry. Om seker te maak dat hulle kos volgens skedule en soos hulle gewoond is daaraan, kry. Dit kan “raw diet”, klaar gaargemaak, net pille of selfs ‘n gourmet ete wees. Party diere het medikasie nodig, ons het al soms tye gehad waar ons diere moes veearts toe neem,” vertel sy.
Volgens Schoeman bied haar onderneming drie dienste wat bestaan aan tuisbesoeke, “kennel free” verblyf sowel as ‘n “doggy daycare”.
Ons gaan een of twee keer per dag na ons kliënt se huis toe, gee kossies, water, daar word 500 keer bal of frisbee gegooi as dit nodig is, en dan natuurlik plante en tuin natmaak indien nodig.

Die “kennel free” verblyf is vir honde wat aan ons vereistes voldoen en wat dan kom kuier hier by ons huis. Daar is geen hokke nie en dit is ‘n huis weg van die huis af waar hulle met ander hondemaats kan speel en dieselfde liefde en aandag kry net soos by hulle eie huis.
Die honde slaap almal in die huis, net soos by hulle eie huis. Ons hou by hulle voedingskedule, en hulle kry hulle medikasie indien nodig. Ons weet ook hoe om goed soos epilepsie te hanteer, en wat om te doen as ‘n hondjie ‘n aanval kry by ons,” verduidelik Schoeman.
Die “Doggy Daycare” is ‘n daaglikse diens waar honde daagliks met ander honde kom speel wanneer hulle eienaars moet gaan werk of klas toe gaan.
“Hulle gaan huis toe in die middae lekker moeg en baie gelukkig,” brei Schoeman uit.
De Bruyn noem dat haar naweke/vakansiedae gewoonlik mooi beplan moet word om by al haar huise uit te kom waar sy troeteldiere oppas. “Ek pas troeteldiere op vir mense wat naweke of vakansies weggaan. Aangesien ek self werk deur die dag, is dit nie moontlik om na diere om te sien as hul mense by die werk is nie. Ek het vaste kliënte wat elke keer by my bespreek. “Ek is baie besig oor skoolvakansies, veral Desember. Ek het byvoorbeeld Desember 2020 na 23 huise per dag gekyk. Langnaweke is ook altyd vol en ek doen dit alleen. Ek werk elke dag my roete vooraf uit en vertrek gewoonlik om 7:00 die oggend en weer 15:00 die middag oor tye wat baie besig is,” noem De Bruyn.
“My dienste behels om kos en skoon water te voorsien (asook ys vir die warm somerdae). Ek gee enige nodige medikasie. Ek verrig ook huishoudelike takies soos om potplante nat te maak, ligte in en rondom die huis te wissel, te kyk of die yskaste loop en krag op die meter te laai. Ek spandeer ook soveel tyd as wat my skedule toelaat by die diere om te speel en liefde te gee,” verduidelik sy meer oor wat haar dag behels.
De Bruyn noem dat sy al na allerlei troeteldiere omgesien het en dit haar werk interessant maak. “Ek het al gekyk na honde, katte, visse, hamsters, muise, hase, voëls, spinnekoppe, rotte, bearded dragons en slange,” brei sy uit.
Van der Westhuizen noem dat hy ook al ‘n paar tradisionele sowel as eksotiese diere onder hande gehad wat onder andere honde, katte, muise, marmotte, hoenders, ganse, visse en iguanas insluit.
“Vir my is dit die lekkerste om my kliënte gerus te stel wanneer hulle nie daar vir hulle diere kan wees nie. Om die heeltyd met die besoek terugvoer te kry hoe dit met jou dierekinders gaan en gerusgestel te kan wees dat alles reg is,” meen Van der Westhuizen wat oor naweke en vakansies ook die besigste is.
Schoeman noem dat haar besigste tye tydens vakansies (Desember) is en dat hulle sewe dae ‘n week oop vir honde is. Sy is ook baie lief vir honde en sien dit amper soos om ‘n “honde ouma” te wees. “Ek is baie lief vir honde en sou maklik 20 van my eie hê as ek kon. Op hierdie manier kry ek al die hondeliefde wat net goed is vir die siel, sonder om vir my man ‘n hartaanval te gee met nog ‘n hond van ons eie,” grap sy.
“Dit is soos ‘n ouma te wees… jou kleinkinders kom kuier, jy kan hulle lekker bederf maar jy weet hulle gaan weer huis toe.
“Dit maak my hart baie bly om elke oggend my dagsorg honde te sien sterte waai, ek kry drukkies en soms ‘n onverwagte soen reg oor my gesig. Ek sal dit vir niks verruil nie!”
“Ek is mal oor diere en elke dier is anders, dis heerlik om elkeen se persoonlikheid te leer ken. Dit is ook goeie blootstelling en ‘n geleentheid om Potch en die inwoners beter te leer ken. Die lekkerste gevoel is om te sien diere waarna ek elke jaar omsien, herken my en is opgewonde om my te sien,” voeg Schoeman by.



