‘n Omgeekultuur, dinamiese bestuurspan en ‘n holistiese benadering wat gelukkige en gedissiplineerde leerders se potensiaal ontsluit, is maar een van die redes vir Hoërskool Ferdinand Postma se 100% matriekslaagsyfer vir die 22ste agtereenvolgende jaar.
Ferdies se uitstekende akademiese prestasie in die 2021 matriekeindeksamen besorg vir die skool ook die eerste plek in Noordwes en die agtste plek nasionaal ten opsigte van gemiddelde onderskeidings per leerder in Afrikaanse skole. Dit volgens ‘n verslag wat verlede week deur Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) bekendgestel is.

Ferdies se matriekgroep behaal ‘n fantastiese gemiddeld van 2.5 onderskeidings per 86 leerders in die groep met ‘n algehele totaal van 215 onderskeidings. Ferdies behaal die hoogste vakgemiddeld in Noordwes vir Rekeningkunde (86.71%), Afrikaans Addisionele Taal (77.18%), Ekonomie (72.20%), IGO (67.71%), Engels Eerste Addisionele Taal (77.76%), IT (77.0%) en Wiskunde Geletterdheid (73.71%).
Noordwes spog ook met drie van die top 20 Afrikaanse skole met die meeste onderskeidings per kandidaat: Ferdies in die agtste plek, Potchefstroom Gimnasium in die 17de plek en Hoërskool Wesvalia in die 20ste plek.
Die skoolhoof van Ferdinand Postma, mnr. Antoon Labuschagne en die adjunkhoof, mev. Annette Stander, noem dat hierdie uitslae groot trots vir die skool bring.
“Dit is vir ons altyd ‘n groot verligting en dankbaarheid wanneer ons die 100% slaagsyfer behaal. Dit is harde werk van beide die leerders en die passievolle onderwysers wat ons het. Die goeie basis word daagliks met aansporing en motivering gelê,” noem Labuschagne.
Ferdies se deurlopende puik prestasies vir die afgelope twee dekades kom uit ‘n agtergrond waar die skool moes teruggaan na die spreekwoordelike swartbord om ‘n nuwe omkeerstrategie te implementeer.
“23 jaar gelede het Ferdies agt matriek druipelinge gehad. Ons het toe besluit dat daar ‘n drastiese ingryping moet plaasvind waar ‘n holistiese benadering gevolg moes word. Ons het die kleredrag verander en die leerders se insette gekry. Dit is belangrik vir ons dat die leerders ook ‘n stem het in die skool,” vertel die hoof.
Ferdies volg die eenvoudige slagspreuk “To teach is to touch a life forever” om sodoende elke leerder se potensiaal optimaal te ontgin om ‘n verskil in die multi-kulturele wêreld na skool te kan maak.
“Die omgeekarakter by Ferdies is baie belangrik. Dit is omgee van binne en buite met ‘n Pay It Forward-sisteem,” meen Labuschagne.
Al het die onsekerheid van Covid-19 die onderwyssektor onder druk geplaas, het die bestuur, personeel en leerders van Ferdies saamgestaan en met doelgerigte beplanning en deursettingsvermoë is daar ook in die middel van die pandemie ‘n 100% slaagsyfer verlede jaar behaal.
“Die leerders het werklik na die partytjie toe gekom en het maklik en vinnig ingeskakel met klasse oor Zoom, Google Classroom en ander platforms. Daar was ook nie een akademiese dag wat verlore gegaan het nie en almal was op datum,” noem Stander.
Hierdie sukses hou direk verband met die noukeurige beplanning en grondslag wat gelê word. 
Verder speel Ferdies se SETH-program ook ‘n groot rol in die akademiese uitnemendheid. SETH bied leerders die geleentheid om blootstelling te kry oor verskeie loopbane in wetenskap, ingenieurswese, tegnologie en gesondheidswetenskappe-velde.
“Dit leer die kinders om krities te dink en bied ekstra inligting wat hulle nie in die skoolsillabus sou ontvang nie. Indirek verryk die leerders mekaar ook met hierdie blootstelling. Die gemiddeld van 66% vir wiskunde kan ook aan SETH toegeskryf word,” noem sy.
Ferdies se suksesverhaal en fantastiese prestasies is nie net ‘n bewys van die 2021 matriekgroep se doelgerigtheid nie, maar voeg net nog ‘n skakel in die sterk akademiese ketting wat deel van die skool se fondasie en tradisie is.
Labuschagne sluit af met woorde van dankbaarheid vir al die oud-Ferdie leerders wat hulle merk by die skool gemaak het.
“Van hulle kom steeds terug na die skool om in te loer, dankie te sê en op een of ander manier betrokke te bly. Almal speel ‘n groot rol in die sukses van Ferdies.”



