
Honde word nog altyd gereken as ‘n mens se beste vriend. In sekere gevalle is honde wat as emosionele ondersteuningshonde optree, meer as net vriende en inderwaarheid ook superhelde.
‘n Tuisonderwyseres van Potchefstroom, Veronica Shepherd, gaan nêrens sonder haar emosionele ondersteuningshond, Mila, ‘n Jack Russell nie.
Veronica is vyf jaar gelede met Vertigo (duiseligheid) gediagnoseer. Sy verloor maklik haar balans as sy ‘n dronk sensasie in haar kop voel en te vinnig beweeg. Veronica het besluit om ‘n hond te kry om haar te help met haar siekte. Mila het toe tot haar redding gekom en nou is die twee onafskeidbaar.
Mila is altyd in die publiek in haar groen jassie uitgevat en begelei vir Veronica in haar daaglikse aktiwiteite soos inkopies doen.

“’n Hond het ‘n natuurlike instink om te lei. Vertroue is ook ‘n baie belangrike eienskap wat die hond moet hê. Mila gaan oral saam, maar met haar jassie. Sonder haar jassie sal sy nie toegelaat word nie. Jy sal nie glo hoe almal haar vryf en dit aanvaar nie, selfs in die Mall,” noem Veronica.
Sy vertel ook graag hoe Mila haar al baie in verskeie situasies gehelp het.
“Mila dui my rigting aan. Ek kan soms verdwaal. Sy wys tot waar ek parkeer het. Ek weet nie hoe sy dit regkry nie, maar sy is baie betroubaar en goed opgelei. Sy sal nooit onnodig blaf nie.”
Volgens Veronica is Mila se goeie opleiding te danke aan die tyd wat sy saam haar man tydens jagekskursies deurgebring het. Registrasie vir ‘n emosionele ondersteuningshond kan deur ‘n mediese instansie gedoen word.

Daar word nie van ‘n emosionele ondersteuningshond vereis om enige spesifieke take vir ‘n gestremdheid uit te voer op die manier wat dienshonde doen nie, maar verskaf emosionele stabiliteit en onvoorwaardelike liefde en vertroosting.
Hulle kan met toestande soos angs, depressie, bipolêre versteuring/gemoedsversteuring, paniekaanvalle, vrees en ander sielkundige en emosionele toestande help.
Vir inligting kan Veronica by 082 566 8773 gekontak word.