NewsNews

Tekstieldiere gaan ’n kreatiewe belewenis wees

Meer as 120 individuele gemengde-media tekstielbeelde en dekoratiewe vase in ‘n asemrowende vertoning van meesterlike manipulasie en kombinasies van herwinde, nuwe materiale en mediums, verwelkom besoekers na die galery.

Die Hoofmuseum Galery in Potchefstroom verwelkom besoekers na die fantasiewêreld van eksentrieke en realistiese tekstiel kreature wat lyk asof hulle enige oomblik lewendig gaan word.

Die multi-dissiplinêre kunstenaar, Veronika Olivier, bring ‘n ‘unieke styl’ van ‘harde’ tekstielbeelde na Die Hoofmuseum, h/v Sol Plaatje en Wolmaransstraat in Potchefstroom.

Dit is haar eerste solo uitstalling in Suid-Afrika en word vanaf 10 April tot 31 Mei gehou. Meer as 120 individuele gemengde-media tekstielbeelde en dekoratiewe vase in ‘n asemrowende vertoning van meesterlike manipulasie en kombinasies van herwinde, nuwe materiale en mediums, verwelkom besoekers na die galery.

Die beelde is hoofsaaklik gemaak van herwinde materiaal, hout, draad, papier en plastiek wat versteek is in elke ledemaat wat gemaak word voordat die kunstenaar begin met haar unieke proses van tekstiel beeldhouwerk. Die meeste van haar idees word gebore uit herinneringe, persoonlike ondervindings en kreatiewe inspirasie.

Die uitstalling fokus rondom die “Oh Whooters” (uile), “Oh Hares” (hase) en “Quack-A-Lots” (eende) met ‘n verskeidenheid ander diere wat onder meer wilde diere, seelewe, insekte en volstruise insluit.

Veronika vertel dat sy nog altyd ‘n voorliefde vir tekstielmateriaal gehad het. Op die ouderdom van vyf het haar ouma haar geleer stik op ‘n handmasjien. Op skool was beeldhouwerk haar gunsteling kunsvorm en dit is vir haar wonderlik om die twee voorliefdes te kan kombineer om meesterlike kunswerke te maak.

“Wanneer ek werk is daar ‘n oomblik waar ek die karakter in elke dier raaksien. Dit is dan ook wanneer ek die storie rondom hul bestaan, vorm en ‘n naam uitdink. Soms praat ek met hulle en soms ‘praat’ hulle terug. Ek glo dat elke beeld wat ek maak vir iemand spesifiek bedoel is. Of die beeld ‘n week of ‘n jaar in my ateljee staan, iewers kom daar altyd ‘n tyd wanneer ek hartseer moet afskeid neem.

“Die diere hou my bedags geselskap terwyl ek werk. Die meeste van my beelde is van herwinde materiaal gemaak, nie net as ‘n etiese standpunt nie, maar ook omdat dit elke stuk uniek maak. Meeste materiaal soos plastiek en foelie neem jare om te disintegreer en as ek dit binne my beelde gebruik doen ek my deel vir herwinning. “Ek sien my beelde as die wêreld se mooiste ‘asblikke’.”

Gebore in Suid-Afrika en tans woonagtig in Heidelberg, Gauteng, het hierdie kunstenaar met ‘n unieke karakter en styl, nes haar beelde vir haarself ‘n ateljee geskep waar sy elke dag werk en kunswerke maak wat sy wêreldwyd verkoop. Haar kuns word hoofsaaklik verkoop deur middel van internasionale kunsveilings en tans is haar grootste kliëntebasisse gevestig in Amerika. In 2019 het sy saam met ‘n groep Suid-Afrikaanse kunstenaars die geleentheid gehad om haar tekstielbeelde in Melbourne en Australië uit te stal.

Veronika is ‘n bekende gesig in die kreatiewe wêreld en haar werke is al in verskeie Amerikaanse en Suid-Afrikaanse tydskrifte gepubliseer. Sy was ‘n gas op verskeie televisieprogramme waar haar verhaal en kunswerke uitgesaai is. In 2019 was sy ook ‘n finalis in die kykNET realiteitsreeks “Kunsvlyt”. Veronika is ‘n ambassadeur vir Dala Art, ‘n plaaslike vervaardiger van kunsprodukte.

Sy doen ook ‘n maandelikse bydrae vir die SA Artist Magazine. As multi-dissiplinêre kunstenaar werk sy met verskillende mediums in verskeie style, onder meer skilder, beeldhou, fotografie en die vorm van ‘assemblage’ kuns. Veronika sê dat niks wat sy doen vooraf beplan is nie. S

y werk absoluut intuïtief en gee haar verbeelding vrye teuels. Natuurlik speel die kaste en laaie vol materiale en herwinde items ook ‘n rol in wat gemaak gaan word.

“Ek leef my beste kreatiewe lewe ooit!”

Mense wat die opening van die kunsuitstalling op Saterdag, 9 April wil bywoon moet voor Vrydag, 8 April om 13:00 bespreek. Stuur ‘n e-pos na veronikasolivier@gmail.com om te bespreek.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button