NewsNews

Hierdie kleurvolle tekstielkarakters praat met jou siel en laat ’n glimlag op jou gesig

‘n Mens kan ervaar hoe elke warm en vriendelike kunswerk (die Oh Hares, Oh Whooters en Quack-A-Lots) ‘n unieke stem het en daadwerklik met elke individu praat.

Sagte beeldende kuns was nog nooit so voortreflik en uniek soos Veronika Olivier se tekstielbeeld-uitstalling van hase, uile, eende en ander wildlewe by die hoofmuseum se galery in Potchefstroom nie.

‘n Spreekwoordelike “Veronika in Wonderland” ervaring het kunsliefhebbers ingewag by die amptelike opening van haar uitstalling in hierdie galery op Saterdag, 9 April. Verskillende kleure, vorms en teksture het die oog gevang en besoekers genoop om hierdie dierebeelde van nader af te bekyk. Kortom sal hierdie kunswerke jou gedagtes na ‘n ander wêreld neem – weg van die gedruis van die daaglikse samelewing.

Foto’s: Wouter Pienaar

‘n Mens kan ervaar hoe elke warm en vriendelike kunswerk (die Oh Hares, Oh Whooters en Quack-A-Lots) ‘n unieke stem het en daadwerklik met elke individu praat – of dit nou die kleur, tekstuur, vorm of emosie op elke dier se gesig is. Die kunstenaar se hart en siel is beslis deel van elke karakter wat met liefde geskep is.

Elke dierebeeld het ook ‘n unieke naam (George, Antoinette, Prophet, ens.) wat verder karakter en identiteit aan hierdie skeppings gee. Wat eers net ‘n klomp materiale was, het Olivier met haar talent en oog vir kuns ‘n nuwe lewe gegee.

“Ek is bevoorreg om elke dag in ‘n ateljee in te gaan in my huis in Heidelberg en lappe, wolle en papiere in hopies te sit. Ewe skielik sê die materiale watter tipe diere of vase hulle wil wees. Op ‘n punt kry hulle karakter, gewoonlik wanneer ek die oë insit. Die karakter sê vir my wat hulle name moet wees,” noem Olivier.

“My inspirasie kom ook uit ervaringe uit my kinderjare. Ek het as kind altyd saam met my ouers na kerk na die hasiepark toe gegaan. Ek het maar net ‘n ingebore aanvoeling om van hase te hou. Die eerste keer toe ek ‘n uil vasgehou het, was daar ook ‘n konneksie met hulle. Die inspirasie agter die eendjies kom uit die “Indian Duck Run” by Vergenoegd in die Kaap,” vertel Olivier verder.

Olivier noem dat hierdie uitstalling in Potch juis belangrik is omdat sy graag haar kuns plaaslik ook wil bemark, aangesien dit oorsee reeds groot aftrek kry.

“Dit is regtig wonderlik om te weet dat ek ‘n fondasie van mense het wat my ondersteun. Sonder my man sal niks vir my moontlik wees nie. Ek is ook dankbaar vir al my kliënte regoor die wêreld,” sê Olivier. “Dit is vir my lekker om te weet as mense na my beelde kyk dat hulle goed voel en dit hulle gelukkig maak.”

In Olivier se eerste solo-uitstalling in Suid-Afrika, is daar ongeveer 120 pragtige items wat aanskou kan word en in enige kunsliefhebber se besit moet wees.

Hierdie uitstalling is tot en met 31 Mei oop (hoek van Sol Plaatjie en Wolmaransstraat) vir die publiek en kan nie misgeloop word nie. Vir meer navrae, kontak vir Miems Lamprecht by miemsl@jbmarks.go.za of Veronika Olivier by veronikasolivier@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button