‘n Brand het vroeg vanoggend (17 Junie) groot skade by ‘n Stadsraadgebou wat vir stoorplek gebruik word, aangerig.

Die plaaslike brandweer moes die brand twee keer blus nadat dit 01:00 begin het en ‘n ander gedeelte weer ongeveer 05:00 aan die brand geslaan het. Teen 08:00 was daar nog baie rook in die lug.
Die Mooirivier Resiesduifklub gebruik ook hierdie gebou Die gedeelte waar die munisipale toerusting en dokumente gestoor is het die meeste skade gekry. Die gedeelte van die gebou wat die Mooiriver Resiesduifklub gebruik het minder skade gekry. Lede van die klub het vanoggend van hul besittings en meubels uit die perseel verwyder na die brand geblus is.
Een van die Moorivier Resiesduifklub se werkers, Petrus Booysen, het die brand gewaar.
“Ek slaap oor hier op Donderdae aande nadat ek gehelp het om die duiwe te vervoer. Ek het wakker geword omdat ek ‘n brand geruik het. Ek het eers gedink die stoof was aan, maar toe sien ek vlamme en rook. Dit is toe dat ek vir hulp bel,” noem Petrus.
Die plaaslike brandweer en Mooirivier Beskerming was op die toneel. Die oorsaak vir die brand is nog nie vasgestel nie.











