Annien red ander mense se lewens as weefselskenker
Annien se bereidwilligheid om ander te help vorm sentraal deel van die dringendheid en belangrikheid van orgaanskenking om lewens te red en te kan verbeter.
Ses maande na die oud-Gimmie, Annien Müller (22) se dood na ‘n fratsmotorongeluk, het sy steeds ‘n impak op mense se lewens deur ‘n nalatenskap as beenweefselskenker te laat.
Annien het voor haar dood op 27 Februarie vanjaar reeds vir haar gesin genoem dat sy ‘n orgaanskenker wil wees en dit iets is wat haar na aan die hart lê. Haar grootste wens was om juis ander te help en ‘n verskil te maak.
Annien is tragies oorlede toe sy haar kêrel, Reino von Wielligh wou help nadat sy voertuig op die N14 gegly het. Sy het uit haar voertuig geklim en op dieselfde oomblik het ‘n ander voertuig wat ook gegly het, haar getref.

Toe Annien op 27 Februarie in die Netcare Sunninghill Hospitaal op haar doodsbed was, het haar oudste suster, Riandi van Rensburg haar wense as orgaanskenker onthou. Carolien Scheepers (Annien se tweelingsuster en Christoff Muller, haar ouer broer) het hul ondersteuning met hierdie besluit bevestig.
“Dit was baie belangrik vir Annien om ‘n orgaanskenker te wees, aangesien sy graag mense wil help. Sy het veral sterk daaroor gevoel toe sy met haar studies aan die Universiteit van Pretoria besig was.
Met die impak van die ongeluk was dit nie moontlik om organe te skenk nie, maar sy kon steeds haar bene en beenweefsel skenk,” noem haar ma, Rina.

Annien se bereidwilligheid om ander te help vorm sentraal deel van die dringendheid en belangrikheid van orgaanskenking om lewens te red en te kan verbeter.
Augustus is nasionale orgaan en weefselbewustheidsmaand in Suid-Afrika en Transplant Education for Living Legacies (TELL) se doelwit is om bewustheid oor die belangrikheid van orgaanskenking te bevorder.
Volgens die besturende direkteur van TELL, Stella de Kock, is hierdie nie-winsgewende organisasie geskep en word bestuur deur pasiënte wat eerstehandse ervaring het van die lewensveranderende effek van ‘n orgaanoorplanting.
“Een orgaanskenker kan agt lewens red en die lewens van tot 72 mense verander. Organe gee vir pasiënte ‘n tweede kans om lewe,” beklemtoon sy.
Die proses om organe of beenweefsel te skenk begin feitlik onmiddellik na afsterwe. Volgens Rina was dit traumaties, maar dat Annien se wense ook belangriker was as die gesin se hartseer.
“Toe ons ons dogter terug in Potchefstroom by die begrafnisfasiliteit gehad het, het ons die tegnikus ontmoet en sy sentrum vir weefselingenieurswese het ons ingelig oor die proses en vereistes.”
Die gesin moes wel steeds toestemming gee voordat enige skenking kon plaasvind.
“Ons het ons toestemming gegee om haar bene te verwyder soos nodig en is ook bewus gemaak van die impak van Annien se skenking, aangesien haar bene en beenweefsel van kritieke belang was vir mense wat oorplantings benodig. As gesin het ons ook ‘n dankie-geskenk van TELL en die Sentrum van weefselingenieurswese ontvang. Ons het naderhand meer van die proses geleer en is ook nou beter ingeligte ouers,” noem Rina.

Nes in Annien se lewe op aarde gee sy ook nou terug aan talle mense met haar onbaatsugtige skenking.
Sodoende los sy haar Skepper se handtekening nes sy in haar 2017-gedig “Sy Handtekening” beklemtoon het:
“Hy het die lewe uitsonderlik geskets
en huiwer nooit weer om Sy
kwas of tang weer op te tel nie.
Ons as kunswerke moet ons roeping vervul.
die aarde voltooi,
deur Sy handtekening te los.”



