Flink personeel van Die Wilge rol moue op en herstel waterlek
Mnre. Gert Maré en Michael Brits het hulle moue opgerol om die slaggat te vul.
Woel en Werskaf Kleuterskool sukkel vir ‘n geruime tyd met ‘n groot slaggat en gepaardgaande waterlek by die ingang van hul skoolhek in Rocherstraat.
Dié probleem is die afgelope week danksy die flink werk van Hoërskool Die Wilge se personeel uitgesorteer. Mnre. Gert Maré en Michael Brits het hulle moue opgerol om die slaggat te vul.
Volgens Die Wilge se skoolhoof, mnr. Attie Rudd, was die slaggate veral problematies vir ouers wat hulle kinders na die skool vervoer. Dit was ook ‘n veiligheidsrisiko wanneer verkeer probeer uitswaai om die slaggat te mis.

“Dit is belangrik dat dit netjies om ons en ons buurskole lyk,” het hy verder beklemtoon.

“Ons het elke dag die munisipaliteit gebel en gevra om die slaggate en waterlek te herstel. Daar het egter nooit iets gebeur nie. Een oggend het twee van Die Wilge se personeellede en van hulle leerders begin om dit reg te maak. Ons is baie dankbaar,” sê die hoof van Woel en Werskaf Kleuterskool, Augusta Retief.




