Huldeblyke stroom in na Vyfhoek-tragedie
Die plaaslike gemeenskap is in rou na die tragiese vragmotorongeluk wat gistermiddag (Donderdag, 18 Augustus) die lewens van vyf skoolkinders van Vyfhoek Laerskool geneem het. Skole in Potchefstroom het op sosiale media, woorde van bemoediging en troos gedeel en genoem dat die skool, leerders en ouers in hulle gebede is. LUR vir onderwys in die …
Die plaaslike gemeenskap is in rou na die tragiese vragmotorongeluk wat gistermiddag (Donderdag, 18 Augustus) die lewens van vyf skoolkinders van Vyfhoek Laerskool geneem het.
Skole in Potchefstroom het op sosiale media, woorde van bemoediging en troos gedeel en genoem dat die skool, leerders en ouers in hulle gebede is.
LUR vir onderwys in die Noordwes-provinsie, Mmaphefo Matsemela, is verpletter oor die voorval en doen ‘n beroep op samewerking in hierdie moeilike tyd.
“Om vyf leerders op hierdie manier te verloor is nie maklik om te aanvaar nie – as ‘n ouer en as ‘n opsigter vir hierdie leerders.
“Ons het nie woorde nie en ons pleit by die publiek om die saak met sensitiwiteit te hanteer, aangesien ouers steeds probeer om hierdie skielike verlies te verwerk.
“Ek wil ‘n woord van vertroosting aan die bedroefde families stuur en vir diegene wie se leerders gehospitaliseer is”, het Matsemela uitgespreek.
VF Plus raadslid in JB Marks, Marlene Steyn-Du Toit, sowel as DA koukusleier in JB Marks, Hans-Jurie Moolman het ook albei hulle medelye gedeel.
“VF Plus in JB Marks betuig sy medelye met die ouers , families en onserwysers van die leerlinge wat Donderdag in ‘n tragiese ongeluk op die skoolterrein van die Vyfhoek laerskool buite Potchefstroom oorlede is. Spoedige herstel van die beseerde leerlinge word hulle ook toegewens. Die VF Plus het op die toneel reeds die munisipale bestuur genader om ook bystand aan die betrokke families te gee en dringend met Sanral te vergader om die N12 in die omgewing van die skool veiliger te maak en verkeerbeheer toe te pas,” het Steyn Du-Toit genoem.
“Namens die DA spreek ons, ons medelye uit aan die families, vriende en naasbestaande van die kinders van Vyfhoek Laerskool wat in die ongeluk oorlede is. Ons harte gaan uit na julle en ons kan nie indink watter pyn en skok hierdie ongeluk gebring het nie. Ons bied ook ons ondersteuning vir die kinders wat beseer is en ons sal aanhou bid vir hulle volledige herstel,” het Moolman genoem.
Die Herald het die skoolhoof van Vyfhoek Laerskool, mnr. Corrie Smit, vir kommentaar genader, maar hy het genoem dat hy nie tans direk met die media kan gesels nie.













