Moedeloos oor aanhoudende waterlekke
Waterlekke en slaggate in Rossstraat in Potch Industria is vir jare al vir besigheidseienaars ‘n massiewe kopseer.
Waterlekke en slaggate in Rossstraat in Potch Industria is vir jare al vir besigheidseienaars ‘n massiewe kopseer.
Michael Smith, bestuurder van A & N Panelbeaters in Rosstraat, is raadop oor die klomp groot waterlekke en slaggate voor sy perseel.
Nie net maak die waterlekke en gepaardgaande slaggate dit vir kliënte moeilik om by die perseel te kom nie, maar kan dit ook hulle motors beskadig – juis wat die paneelkloppers wil verhoed.
Verder moet motoriste deur modder ry en dan maak dit ook die perseel se vloere vuil, wat ‘n slegte indruk skep.
“Ek is verby keelvol vir hierdie waterlekke en slaggate. ‘n Mens kan nie so werk en besigheid doen nie. Ons kliënte kla baie dat hul motors vuil word en dat hulle deur gate moet ry om by ons uit te kom.
“Ons personeel moet elke dag die pad gebruik en vir die slaggate uitswaai,” verduidelik Smith.

Volgens Smith is hy al vir ses jaar bewus van hierdie probleem wat daagliks groter word.
“Die munisipaliteit het al probeer om dit te herstel, maar dan bars die pyp net op ‘n ander plek en hou die waterlekke aan. Die hele pad sal oorgedoen moet word,” meen Smith.
Met die reënseisoen op pad kan die slaggate net nog vererger as daar nie dringend aandag gegee word nie.
“Dit is ‘n groot gemors en ek is moeg gesukkel.
“Daar word net niks aan hierdie probleem gedoen nie,” sê hy.

Die Herald het die J.B. Marks munisipaliteit vir kommentaar oor die waterlek genader, maar teen druktyd nog nie terugvoer gekry nie.











