Local newsNewsNews

Landdroshof se dak sak inmekaar glo weens gebrek aan instandhouding

Die voorval het net na 16:00 vanmiddag plaasgevind. Niemand is in die voorval beseer nie. Die gebou is onveilig verklaar en is tot verdere kennisgewing toe vir die publiek

‘n Gedeelte van die dak van die Potchefstroomse Landdroshof het vanmiddag (Maandag, 19 September) inmekaar gesak.

Die voorval het net na 16:00 vanmiddag plaasgevind. Niemand is in die voorval beseer nie. Die gebou is onveilig verklaar en is tot verdere kennisgewing toe vir die publiek.

Die plafon het glo al verlede jaar inmekaar gesak by die kontantstoor waar die dak nou ook vandag finaal die gees gegee het.

Foto’s: Verskaf

Een van die groot redes vir die dak wat inmekaar gesak het is die beweerde gebrek aan instandhouding van infrastruktuur in hierdie hof.

Personeel en prokureurs wat elke dag van die hof gebruik maak is bekommerd oor die strukturele integriteit van die gebou.

Twee siviele distrikshowe is al vir twee jaar vir herstelwerk gesluit wat ‘n sneeubaleffek het op die effektiewe funksionering van die hof.

Die dak het in die kontantstoor se gedeelte inmekaar gesak.

Prokureurs het al in Maart vanjaar briewe aan die direkteur generaal van die Departement van Justisie gerig om hulle klagtes oor die verval van die landdroshof te verwoord en vir dringende ingryping te vra.

Marlene Steyn du Toit van Steyn du Toit Prokureurs het op 15 Maart 2022 ‘n brief aan die direkteur generaal gerig waarin sy verskeie klagtes geopper het.

“Tot die dag van die siviele verhoor is ons in die donker om te sien of daar ‘n hof beskikbaar is vir ons om voort te gaan. Soms moet jy net sit en wag vir ‘n hof om beskikbaar te wees. Alternatiewelik, sal jou saak uitgestel moet word. So ‘n uitstel het ‘n erge koste-implikasie,” noem sy in die brief.

Sy noem ook in die brief dat sy al saam met haar klient in kamers by ‘n landdros gesit het waar die plafon besig is om inmekaar te val.

“Dit is in die gedeelte van die hof waar daar nie tans herstelwerk verrig word nie. Dit skep beslis ‘n veiligheidsgevaar en ‘n mens kan net dink watter siviele sake kan volg, moet óf ‘n landdros, prokureur of kliënt beseer word as gevolg van die toestand van die gebou.”

Johan le Grange, ‘n Potchefstroomse prokureur, is ook een van die prokureurs wat ‘n brief aan die direkteur generaal van die departement van justisie, gestuur het om sy misnoë oor die hof se toestand te verklaar.

Volgens Le Grange het hy ook alreeds op Vrydag, 4 Maart hierdie brief gestuur maar nog geen reaksie ontvang nie.

Die Herald het die departement van justisie vir navrae gekontak maar nog nie enige terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button