Watervlakke styg by Vyfhoek reservoir maar dele van Ikageng steeds sonder water
Inwoners word gevra om water by spesifieke punte af te lewer om die gemeenskappe in Ikageng by te staan.

Terwyl die watervoorsiening by die Vyfhoek reservoir stelselmatig verbeter het, is daar nog steeds na vier dae geen water in Ikageng (extension 11 en extension 7) nie.
Watertenkwaens kan nie voorbly met aflewering nie. Inwoners word gevra om water by spesifieke punte af te lewer om die gemeenskappe in Ikageng by te staan.
Inwoners kan by Pick & Pay Vanderhoffpark 5L waterbottels by hul ingangsarea aflaai. Hulle kan ook water skenk en by DA wykraadslid, Heinricha Hodgson se kantoor by 140 Peter Mokabastraat aflewer.
Watervoorsiening is wel besig om op te tel in die geaffekteerde woonbuurte wat die Vyfhoek reservoir bedien.
Dit nadat daar verlede week vanaf 13 September ‘n groot watertekort was weens ‘n gebrek aan rou water van die Departement van Water en Sanitasie, sowel as aanhoudende beurtkrag wat die pomp van water bemoeilik het.
Volgens DA wyksraadslid in wyk 3, Anné van Onselen, is die Vyfhoek reservoir 1 en 2 se vlakke vanoggend op 75% en reservoir 3 op 71.43%.
“Dankie aan elke inwoner wat oor die naweek bedagsaam was en minder tuin natgespuit het. Ek het gevra dat die drukklep nagegaan word,” het sy genoem.