Local newsNewsNews

Plaaslike ingenieur en sportman (30) sterf in motorongeluk

O.J, 'n oud-Gimmie, was ‘n bekende Potchefstromer en geliefd onder sy vriende, familie en kollegas.

Die skielike afsterwe van die kranige sportman en ingenieur, O.J. Labuschagne (30) in ‘n motorongeluk op Saterdagaand (29 Oktober) het die hele gemeenskap diep geskok.

Labuschagne was op pad terug na Potchefstroom vanaf Vanderbiljpark waar hy Saterdag gewerk het. Hy het glo beheer oor sy voertuig verloor en is op slag dood.

O.J. was ‘n bekende Potchefstromer en geliefd onder sy vriende, familie en kollegas. Hy was in Baillie Park op laerskool (tot en met 2004) waarna hy in 2005 na Laerskool Mooirivier geskuif het. Hy het in 2010 by Potchefstroom Gimnasium gematrikuleer.

OJ Labuschagne was ‘n kranige sportman en gewild onder sy vriende.

Hy was die onderkaptein van Gimmies se eerste rugbyspan en die eerste krieketkaptein.

O.J. het B.ing Meganiese Ingenieurswese by die NWU vanaf 2011 – 2016 studeer. Hy was lid van Patria Manskoshuis aan die NWU en het vir die koshuis se eerste rugbyspan gespeel.

Hy is op 20 November 2018 met sy vrou Litanie (Botha) getroud.

O.J en sy vrou Litanie op hul troudag in November 2018. Foto: Facebook.

Sy boesemvriend, Rikus Vermooten, het vir O.J. vir 27 jaar geken met die twee wat onlosmaaklik deel van mekaar se lewens was.

“O.J. is my oudste vriend. Ek het hom ontmoet toe ons drie jaar oud was in die kleuterskool. Ons het saam in mekaar se huise grootgeword. Ons was saam op laer en hoërskool en ook kamermaats in Patria manskoshuis. Ons was ook mekaar se strooijonkers op ons troues.”

“Vir my was O.J. die vriend wat ek op kon staatmaak. Hy het altyd ‘n glimlag op sy gesig gehad. Hy was groot en sterk, maar ook ‘n klein hartjie en omgegee vir diere. As hy by my huis aankom sou hy eers my diere groet. Hy was ‘n regte gentle giant. ‘n Nederige en ordentlik ou.”

“Ek sal OJ onthou as ‘n broer wat vir jou die regte ding sal doen al is jy nie daar nie.”

Lemmer Vermooten, nog ‘n baie goeie vriend, en jonger broer van Rikus, was ook O.J. se werkskollega.

O.J. was nog altyd ‘n senior in my oë vandat ek kon onthou. Hy en my ouer broer, Rikus Vermooten, het saam mekaar gespeel van kleintyd af en ek het altyd saam gepickle en wou altyd deel wees waarmee hulle besig was soos wat ‘n jong boetie doen. In die proses het ek en hy goeie vriende geraak van hoërskool af, deur Patria manskoshuis en ook as kollegas.

OJ was ‘n ongelooflike vriend en het my as jong ingenieur onder sy vlerk gevat en gelei. Ek en O.J. het beurte gemaak om van Potch na Vanderbijlpark toe te ry vir werk vir 2 jaar lank en het ook baie vir werk gereis waar ons Afrika ingevaar het en in die proses nader aan mekaar geraak het. Ek sal O.J. altyd onthou as iemand vir ‘n lus vir die lewe met ‘n ongelooflike optimistiese siening en iemand wat werklik lief was vir wat hy gedoen het as ‘n profesie.

O.J. het ongelooflike groot skoene gelos om te vul en ek gaan my groot vriend en kollega onsettend baie mis.

Een van sy vriende, Hein Papenfus, noem dat O.J. ‘n groot man was met ‘n sagte hart wat altyd spontaan sou bel om te hoor hoe dit met ‘n mens gaan.

“Ons het baie tyd saam spandeer en sy afsterwe laat ‘n leemte wat lank sal vat om gevul te word. Ons het altyd saam gholf gespeel, vis gevang, rugby gekyk, gebraai…die normale goed wat ouens saam doen,” vertel Hein.

O.J. was ‘n kranige gholfspeler en was gereed om komende jaar aan die bekende Willows Gholftoernooi saam met Hein te speel.

O.J. Labuschagne is op Saterdag, 30 Oktober, in ‘n motorongeluk tussen Vanderbiljpark en Potchefstroom oorlede. Foto: Facebook.

“Hy het altyd tyd gehad vir ‘n grappie en ‘n Vottie (Vodka) soos hy daarna verwys het. Hy was ‘n ongelooflike kompeterende sportman. Ek wens ons kon hom nog net een keer sien om behoorlik te groet. Hy gaan ongelooflik baie gemis word.”

OJ Labuschagne was ‘n mens wat altyd tyd vir sy vriende gehad het.

Sy ma, Antoinette, sal hom ook onthou as iemand wat altyd positief was en alles met ywer en entoesiasme aangepak het.

“Sukses was altyd sy doelwit. Hy het altyd tyd vir vriende gemaak. Hy het altyd tyd gehad vir grappie of terg,” vertel sy.

Hy laat sy vir sy vrou Litanie, sy ouers, Antoinette en Leon, sowel as sy suster Chantelle en swaer, Daryl Bensch, agter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button