Local newsNewsNews

Ventersdorp gaan gebuk onder kragkrisis

‘n Kragkrisis heers reeds vir twee jaar in Ventersdorp, wat ‘n direkte ekonomiese impak op besigheidseienaars en inwoners het.

‘n Kragkrisis heers reeds vir twee jaar in Ventersdorp, wat ‘n direkte ekonomiese impak op besigheidseienaars en inwoners het.

Gebrekkige instandhouding is een van die groot faktore vir hierdie kragkrisis. Kragpale is in ‘n haglike toestand, terwyl roetine tegniese werk, weens ‘n beweerde gebrek aan toerusting, te lank neem. Inwoners sukkel ook om hulp te kry wanneer die krag afgaan, aangesien daar niemand is om die situasie aan te rapporteer nie.

Hierdie kragonderbrekings, wat nie met beurtkrag gepaard gaan nie, is ‘n groot bekommernis aangesien dit lewenskoste verhoog. Besigheidseienaars moet ook duur betaal vir die aankoop van kragopwekkers. Diegene wat dit nie kan bekostig nie, trek swaar aangesien werk gestaak moet word.

Ernst Henning, eienaar van Totpak, het ‘n brouery waar hy elektrisiteit nodig het om produksie aan die rol te hou. Die onreëlmatige kragonderbrekings het hom genoop om kragopwekkers ten duurste te bekom.

Henning is bekend in die dorp dat hy gereeld sy moue oprol om die gemeenskap te help. Hy het al gehelp om die kragpale te herstel om die krag weer aan die gang te kry. Verder sny hy ook gras by een van die plaaslike laerskole en help met ander munisipale take waar hy kan. Dit is hierdie help-waar-jy-kan mentaliteit wat die hart van die gemeenskap in Ventersdorp weerspieël.

Johan Pretorius, eienaar van Johandie Wheel Alignment, ‘n wielbelyning en uitlaatpypbesigheid in Ventersdorp, noem dat hy werk moet staak wanneer die krag afgaan. Pretorius vertel van ‘n geval waar hy drie dae sonder krag was, net omdat daar ‘n gebrek aan kommunikasie was tussen die elektrisiëns en die beheerkamer.

“Ons verloor ongelooflik baie besigheid met hierdie kragsituasie. My kragopwekker kan nie al die krag trek wat nodig is om iets soos ‘n as te doen nie. Die kliënt wil ook nie wag nie, so dan sal hy sy besigheid op ‘n ander plek doen.”

Foto’s: Wouter Pienaar

 

 

“Ek het bykomend vir Herotel in Ventersdorp genader om vas te stel of hulle moontlik ‘n telefoon en lyn sal borg vir ‘n tydelike na-ure inbelsentrum vir probleem rapportering. Herotel het ingestem om die sisteem te borg en die J.B. Marks bestuur het onderneem om operateurs vir daardie doel daar te stel. Die plan is om dit in die volgende week of twee reeds te installeer tot omtrent Februarie 2023 wanneer die rampsentrum in Potch gereed is,” Pieter Steyn, VF Plus raadslid in Ventersdorp

  • Die VF Plus plaas al sedert ongeveer 2016 druk op die munisipaliteit om aandag aan die elektriese infrastruktuur te gee. Die vorige Premier van Noordwes, Job Mokgoro, het Ventersdorp ook op uitnodiging van die VF Plus besoek en het self gesien wat die omvang van die skade is.

“Die VF Plus dring dus daarop aan dat die elektriese infrastruktuur so gou moontlik die nodige aandag en herstelwerk sal ontvang, ten einde werksekerheid te bewerkstellig en te verseker dat die ekonomie van Ventersdorp weer herstel,” voer Steyn aan.”

Teen druktyd het die J.B. Marks Munisipaliteit nie op navrae gereageer nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button