Mooirivier se slimkop wen opstelkompetisie
Nico se opstel het gehandel oor Nelson Mandela se leierskap sowel as wat die definisie is om met deernis te lei.
‘n Talentvolle Tokkie, Nico Smit, het onlangs ‘n opstelkompetisie op distrikvlak gewen en ‘n kontantprys van R 4000 vir sy fantastiese skryfwerk ontvang.
Hierdie graad 7-leerder van Laerskool Mooirivier het aan die die Lions Klub Internasionaal, se “Peace Essay” kompetisie deelgeneem en moes ‘n opstel skryf met die tema “Leading with Compassion.”

Die Lions Klub, The Daily Coffee Café en UNIPROP Real Estate Potchefstroom (organiseerders van die onlangse suksesvolle kunskompetisie) het vir Nico gelukgewens met hierdie besonderse prestasie en ‘n tjek oorhandig by sy skool op Dinsdag, 22 November.
“Dit is baie lekker om te wen veral omdat dit die eerste keer is dat ek vir so iets inskryf. Mnr. Jackie Golden het my van die kompetisie vertel en aangemoedig om in te skryf,” vertel Nico.

Nico se opstel het gehandel oor Nelson Mandela se leierskap sowel as wat die definisie is om met deernis te lei. Die opstel het ‘n woordlimiet van 500 woorde gehad.

Die Vredesplakkaat- en Vredesopstelkompetisie is ‘n jaarlikse kompetisie wat deur die Lions Internasionaal aangebied word en het verskeie vlakke van mededinging, wat begin op klubvlak, dan vorder na distriksvlak, dan meervoudige distrik en laastens, die internasionale beoordeling.
Nico se opstel sal nou nasionaal beoordeel word met die geleentheid om dan ook op internasionale vlak deel te neem in hierdie kompetisie.
Nico is ook vanjaar as Mooirivier se Dux-leerder aangewys met ‘n gemiddeld van 92.67%.
Die Lions Club bedank al die borge wat hierdie kompetisie moontlik gemaak het.




