Groot musiekfeeste goedgekeur vir Trimpark en Potch Dam in feesseisoen
Een van die organiseerders, Big Daddy 24/7 Events, gaan Vrydag, 16 Desember vanaf 16:00 - 06:00 die volgende oggend ‘n All White 80’s Party by die Trimpark aanbied.
Funksies wat oor die feestyd in Potchefstroom gehou is, het die afgelope paar jaar vir inwoners ‘n groot besprekingspunt rakende klankbesoedeling en die tydsduur van hierdie geleenthede geword.
Een van die organiseerders, Big Daddy 24/7 Events, gaan Vrydag, 16 Desember vanaf 16:00 – 06:00 ‘n All White 80’s Party by die Trimpark aanbied.
Sir G events gaan op dieselfde dag vanaf 14:00 – 06:00 ook ‘n funksie by Potchefstroom Dam aanbied. Daar sal ook Sondag, 1 Januarie vanaf 12:00 – 02:00 ‘n geleentheid by Potchefstroom Dam plaasvind wat ook deur Sir G events gereël word.

Die aansoekkapasiteit vir albei feeste is tussen 8 000 – 10 000 mense met verskeie kunstenaars wat gaan optree.
Vanjaar is die korrekte prosedures vir die aansoek van hierdie groot feeste weer nie tot die letter gevolg nie, weens ‘n gebrekkige sisteem en die nie-toespassing van bywette.

Volgens Wyk 24 wyksraadslid, Jeanne Adriaanse, het die organiseerders eers goedkeuring by die polisie gekry voordat die munisipaliteit betrek is. In so ‘n geval is dit dan moeiliker vir die munisipaliteit om die funksie nie goed te keur nie, aangesien die terrein al lank vooruit bespreek word.
“Die normale prosedure is dat die organiseerder die munisipaliteit in kennis moet stel dat hulle die terrein vir die funksie wil gebruik. Die munisipaliteit moet dan relevante bywette met die organiseerder oor hoe laat so ‘n funksie kan aanhou, bespreek. Sodra ‘n datum vasgemaak en ‘n betaling gemaak is, moet die organiseerder dan die polisie rondom die goedkeuring betrek,” meen Adriaanse.
Die munisipaliteit het saam met die organiseerders en verskeie rolspelers vergaderings gehou om ‘n werkbare oplossing te vind sodat die funksies kan plaasvind, maar dat inwoners se regte ook beskerm word.
“Wat die geraasbesoedeling betref, word daar van die organiseerder van die geleentheid verwag om die geraasvlakke te kalibreer en te meet in ooreenstemming met die bywette van die munisipaliteit,” het die woordvoerder van die JB Marks Munisipaliteit, Jeanette Tshite, by navraag genoem.
- Daar is voorstelle gemaak oor die skuif van die verhoë sodat dit weg van die woonbuurt wys en die klank nie die inwoners steur nie.
- Met die nuutste klankstelsels is dit ook moontlik om klank te sentreer na verskillende rigtings en beter beheer toe te pas. By die Trimpark fees sal die verhoog na die sokkerveld/Berts Bricks Atletiekklub gedraai word.
- In verband met die veiligheid van so ‘n fees het die polisie dit as ‘n vlak 2 risiko (medium) bestempel.
- Die organiseerders noem ook dat die feeste tot die vroeë oggendure aanhou aangesien feesgangers dan beter beskerm word en nie laat in die aand in strate ronddwaal nie.
- Glasbottels word ook verhoed.

Wat kan inwoners doen as die klank te hard word?
Volgens die bywette mag die klank nie bo 95 dBA by musiekfeeste en opelug byeenkomste strek nie, tensy die munisipaliteit goedkeuring gegee het.
Inwoners kan op die dae van die feeste die klankvlakke toets en kan dan steeds klagtes indien daaroor indien dit die volume oorskry. Die enigste ander werkbare oplossing vir inwoners is om ook die organiseerders en owerhede deur middel van ‘n regsproses tot verantwoording te roep.




