Fietsrybaan ‘n groot doelwit vir opgeknapte parkie in Burgerstraat
Jannie Brink en sy vrou Nina, het die droom om hierdie parkie na die volgende vlak te neem en 'n fietsrybaan met plaveiselstene of halwe bakstene te bou wat reg rondom die parkie strek.
Inwoners in Burgerstraat in Bailliepark het die afgelope paar jaar met ‘n langtermynprojek begin om die parkie in hierdie straat op te knap en ‘n veilige omgewing vir families te skep waar hulle kan ontspan en die buitelug kan geniet.
Nou is daar daagliks kinders, oefengroepe, en gesinne in parkie waar daar bal gespeel word, piekniek gehou word en oor die algemeen ontspan word.
Jannie Brink en sy vrou Nina, het die droom om hierdie parkie na die volgende vlak te neem en ‘n fietsrybaan met plaveiselstene of halwe bakstene te bou wat reg rondom die parkie strek.
Die rede hiervoor is dat dit tans moeilik vir kinders om met fietse daar te ry omdat daar nog heelwat dorings is en die gras ook redelik dik is op plekke.

Verder is ‘n fietsrybaan ook ‘n ekstra aantrekkingskrag sodat meer gesinne die parkie gebruik. Nina vertel dat hulle hul huis in 2017 in Burgerstraat gekoop het juis omdat dit oorkant die parkie geleë was. Die enigste probleem was dat die parkie daardie tyd baie verwaarloos was en ‘n hawelose man daar gebly het.
“Dit was dus ’n proses en ons, in samewerking met van die ander inwoners, het stelselmatig verbeteringe aangebring, soos om te sorg dat die gras gesny word, die klimrame te verf en die swaaie te herstel, asblikke te installeer en te sorg dat die parkie skoon bly,” noem Nina.
Intussen is die heining op plekke herstel en twee hekkies is aan Burger-en Bremnerstraat geïnstalleer wat vanaf 07:00 tot 19:00 oopgesluit sal wees.
Die Burgerstraat CCTV kameraprojek help ook grootliks met die veiligheid van die parkie aangesien die ingange voltyds gemonitor word.
“Daar bly baie kinders in die Adrina-woonstelblok reg langs die parkie en ons sien hoe hulle elke middag daar gaan speel en hulself gate uit geniet. Baie mense bring ook nou hulle honde om daar te kom stap en speel, daar is selfs oefengroepe wat mekaar daagliks daar ontmoet en gesinne wat oor naweke en in die vakansies kom piekniek hou en bal speel.”
“Dit is mos waarvoor ’n parkie eintlik bedoel is, en dit maak ons baie opgewonde dat mense begin raaksien dat dit ’n plek is waarheen hulle maar met ’n rustige hart kán kom.”
Die fietsrybaan gaan ongeveer 200 meter lank wees en dit gaan ongeveer R30 000 kos. Brink-hulle vra die gemeenskap se hulp in die vorm van kontantborgskappe (deur individue of besighede) of deur om halwe bakstene / plaveisel of sement te borg, sodat hulle hul droom kan laat realiseer.
Kontak vir Nina Brink by 082 331 7281 of vir Jannie Brink by 074 158 5724 vir meer inligting en om betrokke by hierdie fietsrybaanprojek te raak.








