Bekende broers maak nuwe wegneemete restaurant by Silva Sentrum oop
Die bekende tweelingbroers en ervare sakemanne, Jose en Tony Silva, maak Woensdag, 15 Maart ‘n wegneemete restaurant, Chicky Rooster, sowel as ‘n koffiekroeg, Olá Bica by die Silva Sentrum in Nelson Mandelarylaan 105 op die N12 oop.
‘n Splinternuwe plaaslike restaurant skud sy vere reg om Potchefstromers met smullekker kos, kwaliteit diens en waarde vir geld te bederf.
Die bekende tweelingbroers en ervare sakemanne, Jose en Tony Silva, maak Woensdag, 15 Maart ‘n wegneemete restaurant, Chicky Rooster, sowel as ‘n koffiekroeg, Olá Bica by die Silva Sentrum in Nelson Mandelarylaan 105 op die N12 oop.
Hierdie twee handelsmerke van die wegneemete restaurant gaan as ‘n eenheid funksioneer en bied ‘n verskeidenheid opsies met ‘n eg Suid-Afrikaanse-Portugese aanslag.
Aan die een kant bied Chicky Rooster vlamgeroosterde hoender, sowel as pizza, burgers, wraps, ribbetjies en nog meer aan wat enige honger maag sal vul. Aan die ander kant sal Olá Bica geurige koffie uit die boonste rakke aanbied wat kliënte sal laat smag vir meer.
Jose is welbekend in Potchefstroom as die eienaar van Park Fietswinkel en besit die Silvasentrum reeds vir 25 jaar. Sy broer, Tony, vertel juis dat hierdie nuwe wegneemete restaurant se fokus op plaaslike kliënte is en die Potchefstroomse gemeenskap soos ‘n familie wil bedien.
“Ons wil die plaaslike gemeenskap trek en behou met goeie kos teen ‘n goeie prys, tesame met goeie diens. Ons kos en kontrakteurs word ook vanaf plaaslike verskaffers in Noordwes voorsien. Die plaaslike aanslag is vir ons belangrik,” meen Tony.
Kos en koffie gaan hier by Chicky Rooster en Olá Bica, juis vir kliënte ‘n geleentheid gee vir ‘n unieke alles op een plek-ervaring.

“Ons is gebore Suid-Afrikaners met ‘n sterk Portugese agtergrond. Koffie is deel van ons kultuur. Die kos gaan ook ‘n Portugese-Mosambiekse invloed hê. “Die belangrike deel van kos is dat alles vlamgerooster word. Ons pizzas sal in tradisionele houtoonde gemaak word, terwyl ons hoender ook vlamgerooster word.
Die enigste kos wat diepgebraai word is die chips,” noem Tony, wat die afgelope 10 jaar in die kleinhandel-en gasvryheidsbedryf werk.
Tony, wat ‘n agtergrond in kuns het, het self die handelsmerk van Chicky Rooster, “Cousin Galito” geskep en geverf. Buiten dit was hy ook verantwoordelik vir die kleurvolle dekor van die wegneemete restaurant.
Kliënte kan kos bestel en wegneem, maar kan ook binne die winkel, sowel as buite in ‘n veilige area sit en hul tyd by Chicky Rooster en Olá Bica geniet. “Die idee is dat dit soos ‘n kossaal (Food Court) funksioneer. Daar is ‘n verskeidenheid opsies om van te kies wat mense keer op keer sal laat terugkom.
“Ons het nie die wiel herontwerp nie, maar wil dit graag verbeter.”









