Turkstra verras oud-Potchefstromer met ‘n verjaarsdagkoek vanuit Panama
"My pa het die verrassing opreg waardeer en kon nie uitgepraat raak daaroor nie. ‘n Verjaarsdagkoek uit Panama het sy wildste drome oortref!"

Op Saterdag, 18 Februarie, het Turkstra Bakkery vir die eerste keer ‘n oorsese bestelling vir een van hulle smulekker gebak gekry – ‘n bestelling vir ‘n verjaarsdagkoek vanuit Panama, Sentraal-Amerika.
Panama is ongeveer 12 196 kilometer wes van Potchefstroom.
Erika Mommsen het die koek vir haar pa, Willie ‘Biek’ Van Rensburg se 85ste verjaarsdag bestel.

“Turkstra is vir my nog altyd sinoniem met lekkernye en ek wou dolgraag Pappa verras met ‘n koek vir sy spesiale verjaarsdag. Gelukkig kon ek hulle op Facebook opspoor en het begin kommunikeer op die manier.”
Anni-marie Pretorius en Ellen Moorcroft het die bestelling hanteer en deurgegee aandie bakker ,Wilhelmina Janse Van Vuuren
Van Rensburg het vir Pretorius Wiskunde gegee, en was ‘n gereelde besoeker van Turkstra, vertel Pretorius.
“Ek sê netnou vir Gerhard hy was omtrent elke Saterdag hier om inkopies te doen.”
Marinda Riekert, een van Biek se dogters, vertel dat Biek en sy vrou al ‘n baie lang pad stap saam Turkstra.

“Ons as gesin het al ‘n lang verbintenis met Turkstra vanaf 1956 waar hy en my ma, Rita, skoliere was van die destydse Hoër Handelskool, daarna het universiteit gevolg en onderwysberoep by Hoër Handelskool – later Hoërskool JJ Pienaar.”
Janse Van Vuuren wat die koek gebak en versier het, vertel meer oor die bak en versier van die koek. “Die enigste spesifikasies was die kleurskema en die woorde ‘Biek se koek’, verder kon ek self besluit hoe om dit te versier.”
Gerhard Turkstra, eienaar en bestuurder van Turkstra Bakkery sê dat hierdie nie ‘n gereelde gebeurtenis is nie.
“Ons het al baie ouers gehad wat ons gebel het met bestellings vir kinders in Gimmies of vir studente en koshuiskinders. Namibië is die verste van waar af ons voorheen ‘n bestelling gekry het. Die is ons eerste oorsese bestelling.”
Mommsen was baie tevrede met die koek en het die terugvoer aan Turkstra gegee, “Baie dankie Turkstra, die koek was perfek!”
“My pa het die verrassing opreg waardeer en kon nie uitgepraat raak daaroor nie. ‘n Verjaarsdagkoek uit Panama het sy wildste drome oortref!” sê Riekert.