Local newsNewsNews

Mooibank-plakkers dreig met betogings oor uitsetting

Volgens Charles Lekgetho, ‘n gemeenskapsleier van die Mooibank grondbesetters, was hulle nie bewus van die nuwe uitsettingsbevel nie.

Op Donderdag, 9 Maart is ‘n bevel in die Mmabatho hooggeregshof uitgereik wat vereis dat onwettige grondbesetters in die Mooibank-area voor of op 31 Maart uit die omgewing verwyder moet word.

Die nasionale en provinsiale departmente van landbou en landelike ontwikkeling het tot die bevel ingestem. Dit is tans die Potchefstroom Landboukollege wat hierdie grond in Mooibank gebruik.

Volgens Charles Lekgetho, ‘n gemeenskapsleier van die Mooibank grondbesetters, is hulle nie bewus van die nuwe uitsettingsbevel nie en aanvaar hulle nie die hofbevel nie.

Charles Lekgetho, ‘n gemeenskapsleier van die Mooibank grondbesetters deel sy frustrasie. Video: Ntsoaki Mokete

Volgens hom is daar met die JB Marks Munisipaliteit se burgemeester, Gaba Ka Qhele, ooreengekom dat sodra daar vasgestel is dat die munisipaliteit beplan om die inwoners na ’n ander gebied te verskuif, hy hulle voor die verhuising sal inlig waar hulle gaan woon.

“Ons was bereid om saam te werk, maar ons sal eenvoudig nie hierdie nuwe reëling aanvaar nie. Jy kan onder geen omstandighede inwoners verskuif sonder om hulle vooraf kennis te gee nie,” voer hy aan.

Daar is geen water en sanitasie geriewe vir die inwoners nie. Daar was ook al in die afgelope paar maande protes hieroor waar die grondbesetters paaie versper het en skade vir inwoners in die area veroorsaak het.

Lekgetho het ook genoem dat daar beplande protesaksie sal wees as hulle van die area verskuif word.

“Ek sal persoonlik bome afkap en die pad versper.” – Charles Lekgetho.

Cindy du Plessis, wat namens die Potchefstroom-Suid Eiendomseienaarsvereniging optree om die bevel uit te voer, het in Oktober 2022 alreeds ‘n suksesvolle aansoek namens die inwoners ingedien om hierdie onwettige grondbestters teen 31 Januarie vanjaar van die grond te verwyder.

Intussen het dit nie gebeur nie, wat Du Plessis genoop het om ‘n aansoek vir minagting van ‘n hofbevel, voor te berei.

 

‘n Foto van een van die grondbesetters toe die Mooibank area in Januarie 2021 in gebruik geneem is. Foto: Venessa van der Westhuizen.

Die LUR van Landbou en Landelike Ontwikkeling het twee weke gelede ‘n aansoek ingedien dat die sperdatum tot 31 Junie verleng kan word. Die aansoek het ook verder gestel dat die provinsiale department die nasionale departement as respondent sou vervang wat die uitsetting moes uitvoer.

Du Plessis en adv. Adrian Vorster het die regter-president rakende die saak gespreek waarna hy ‘n bevel gemaak het, dat die grondbestters wel op 31 Maart verwyder moet word. Die LUR vir Landbou en Landelike Ontwikkeling in Noordwes is ook verantwoordelik vir die regsaansoekkostes.

Hierdie grondbesetters het alreeds in Januarie 2021 die grond beset nadat ‘n raadslid van die JB Marks Munisipaliteit glo vir die mense genoem het dat hulle, hul nedersettings op die grond kan oprig.

Die JB Marks Munisipaliteit se aansoek om die besetters vanaf ‘n gedeelte van die grond te verwyder is alreeds in Maart 2021 toegestaan, maar weens die Covid-19 pandemie se ramptoestand is hierdie bevel opgehef. Na die ramptoestand verby is, het besetters steeds gebly.

Pulenki Morake, nog ’n gemeenskapslid wat aan die voorpunt was om inligting vir inwoners te kry, sê hulle is moeg daarvoor om belieg te word. “Watter speletjies speel hulle?” het sy gesê.

“Ons het reeds baie in ons lewens hier belê, ons kinders woon naby hul skole en ander is nader aan werk hier,” het sy betreur.

“Dit is nie dat ons nie geskuif wil word nie, ons is net moeg daarvoor om vir die gek gevat te word. In plaas daarvan om verras te word met ‘n uitsetting, moet hulle ons verras met werk en beter dienslewering,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button